Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV)

Om die betrekkinge tussen die twee lande te bevorder, tree die NZAV as bemiddelaar op by die vorming van kontakte tussen die twee lande, en verskaf ook inligting. Hulle is gerig op enige iemand wat belangstel in Suid-Afrika, en word dikwels spesifiek deur wetenskaplikes, joernaliste en politici geraadpleeg. Lede van die NZAV ontvang bowendien gratis die tydskrif Zuid-Afrika, die enigste Nederlandse blad waarin maandeliks oor gebeure in Suid-Afrika berig word.

Inligtingverskaffing en bemiddeling

Die NZAV beskik oor 'n netwerk van deskundiges wat bydra tot die verskaffing van inligting oor Suid-Afrika. Op versoek van organisasies en instellings, sowel dié sonder winsoogmerk as dié in die bedryfswêreld, reël die NZAV deskundige sprekers vir lesings oor allerlei aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing.
As u op soek is na inligting, en daarvoor gebruik wil maak van die dienste van die NZAV, kan u kontak opneem met een van die voltydse medewerkers van die instellings. Stuur 'n e-pos aan nzav [at] zuidafrikahuis [dot] nl.

Reise

Die JP stel hulle ten doel om jong Suid-Afrikaners, Vlaminge en Nederlanders (studente aan universiteite en HBO-instellings) d.m.v. 'n studiereis met mekaar in kontak te bring om sodoende 'n blywende belangstelling vir, en betrokkenheid by mekaar se lande te wek.
Met hierdie doel reis maksimum 24 Suid-Afrikaners en Namibiërs een jaar in die Europese somer vir vier weke na Vlaandere en Nederland en 'n volgende jaar 'n groep Nederlanders en Vlaminge van dieselfde omvang vir dieselfde tyd na Suid-Afrika en Namibië.
Die program omvat o.a. lesings op universiteite, besoeke aan ontwikkelingsprojekte en museums en natuurlik 'n aantal toeristiese uitstappies.
Die verblyf by gasouers maak dit des te meer moontlik om die land op 'n heel besondere wyse te leer ken.

Maandblad Zuid-Afrika

Lede van die NZAV ontvang die Maandblad Zuid-Afrika tien keer per jaar. Lidmaatskap bedra € 35,00 per jaar (studente € 25,00).
Die versameling van die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut kan gratis geraadpleeg word in die leeskamer. Vir die leen van materiaal is lidmaatskap (€ 16,00 per jaar, studente € 6,00) ’n vereiste.
Gesamentlike lidmaatskap bedra € 41,00 per jaar (studente € 28,50).

Boeke bestel

NZAV lede word op hoogte gehou van nuwe Suid-Afrikaanse publikasies, fiksie sowel as nie-fiksie. U kan hierdie boeke, wat moeilik by algemene boekhandelaars bekombaar is, hier teen billike pryse bestel.

Afdelings en streeksverteenwoordiging

Die NZAV het 'n aantal afdelings in die land wat aktiwiteite organiseer vir lede in die verskillende streke. Daar is afdelings in die randstad en in die noorde. Die noordelike afdeling het sy eie webwerf waarop onder andere aktiwiteite in daardie streek (wat Groningen, Friesland, Noord-Overijssel, Flevoland en Drente insluit) bekend gemaak word. In 2006 is daar ook in die ooste, suide en suid-westelike streke van Nederland afdelings opgerig. Deur middel van die aktiwiteite wat in 2007 daar georganiseer word, word gepoog om vas te stel of daar behoefte is aan verteenwoordiging in hierdie streke.

Suid-Afrika Huis     Keizersgracht 141     1015 CK Amsterdam Nederland     tel: +31-20-6249318 fax: +31-20-6382596