Die Ghoema Roete - 'n Persoonlike Reis

Ann Heyns is een drijvende kracht achter de ontwikkeling van cultuurtoerisme in de Westkaap. Niet alleen voor buitenlandse, maar zeker ook voor binnenlandse toeristen. Ondernemende toeristen, die buiten de gebaande paden willen treden en op zoek zijn naar vebeelding en authenticiteit.

Toerisme

Ann Heyns

Maart 2007. 'Jack, ek het ‘n visie om die R44 in ‘n roete te omskep.  Sien jy kans om my te onderhou?, vra ek my broer. 'Vir hoe lank?' was sy vraag.  'So drie maande?' kom die antwoord.  Hoe ek, vier jaar later, nog daarmee wegkom, getuig van broederskap, boerboel–vasbyt en ‘n onwrikbare geloof in die visie nie. O, byna vergeet ek die belangrikste bestanddeel van die resep: Tonne en tonne pret. 

Met vyftien jaar diplomatieke diens vir die destydse Departement van Buitelandse Sake agter die rug, het ek die voorreg gehad om Europa en veral Oos-Europa te leer ken. Sedert 1996, met my terugkeer na Stellenbosch, het ek my beywer om die ondervinding en perspektief wat ek as reisiger opgedoen het, terug te ploeg.  As vrywillige in diens van Stellenbosch Toerisme en Inligting Assosiasie, bring ek etlike nuwe produkte tevoorskyn, waaronder die Arts & Crafts Route to Stellenbosch & Surrounds, asook The Vineyard Hiking Trail – ‘n staproete wat oor ses wynlandgoedere strek. As voorsitter van die ontwikkelingskomitee is ek veral gemoeid met die ontwikkeling van toerisme in die histories benadeelde gemeenskappe. 

Vanweë my blootstelling aan beide die toerisme bedryf in Suid-Afrika en dié van sentraal- en Oos-Europa, kom ek gou tot die besef dat die Suid-Afrikaners ‘n groot fout begaan – hulle sit al hulle eiers in een mandjie.  Daar word slegs gekyk na toeriste as synde internasionale besoekers – plaaslike inwoners word nie alleen misgekyk nie, hulle word ook nie as toeriste geklassifiseer nie.  Dit het verskeie nadelige gevolge,  die belangrikste daarvan is seisoenaliteit: van November tot April is daar buitelandse besoekers – die res van die jaar staan die bedryf stil.

Daarbenewens is dit vir die gemiddelde Suid-Afrikaner onbekostigbaar om in ons eie land tuis te gaan in hotelle en gastehuise. Ek het onmiddellik besef dat dit juis hier is waar ek ‘n verskil kan maak: in die ontwikkeling en bevordering van plaaslike toerisme.  Ek sou dus noodwendig moes vasstel waarop die plaaslike inwoners hul besteebare inkomste spandeer.  Die ontdekking?  Ons hou fees!  In die Wes-Kaap, in die jaar 2007, word 270 feeste gehou – meestal in die platteland, tipies ‘n dagrit of naweek-wegbreek ver.  Die Walvisfees; die Kaasfees; die Snoek-en-patatfees… bywonersgetalle wissel van 4 000 tot 35 000 per fees.

Waar verbeelding inskop

Intussen, soos die lewe maar is, ontstaan daar ‘n kinkel in die kabel en is ek my huweliksmaat kwyt. Entrepreneurs word dikwels beskryf as risk-takers.  Daar behoort ‘n nuwe kategorie geskep te word wat ek graag as risk-inheritors wil doop.  As jy jouself in ‘n twee-man bootjie bevind en een spring uit, is my voorstel: gryp die roer!

Om die pot aan die kook te hou, aanvaar ek ‘n betrekking by L’Avenir wynlandgoed, op die R44 buite Stellenbosch. Die R44-saadjie val op vrugbare grond.  En ontkiem na sewe jaar, nadat ek eers L’Avenir en daarna Sugarbird Manor se potensiaal as gastehuise ontwikkel om funksies, troues en konferensies te kan behartig.

Hier lê die R44 toe soos ‘n ryp vy wat wag om gepluk te word.  In die Wes-Kaap is dié boom sodanig gestroop dat ek byna nie kan glo niemand het dié een raakgesien nie: Die Tuinroete, Roete 62, die Weskus Roete, die Walvis Roete, die Kaap tot Namib Roete, die Wyn Roete – besoekers aan die Kaap kan kies en keur – dit is immers Suid-Afrikaanse Toerisme se hoofstrategie en bemarkingsdoelwit om die diversiteit van aantreklike bestemmings by wyse van Roetes aan die toeris bekend te stel.

Toe ek mooi gaan kyk hoe die R44 lyk, sien ek dit strek vanaf Piketberg in die Weskus tot net anderkant Bettiesbaai in die Overberg.  Dis nou waar die verbeelding inskop.  Met ‘n bietjie artistieke vryheid, skep ek ‘n roete wat van kus tot kus strek. Ek stel my voor die R44 vorm die ruggraat van ‘n vis, waarvan die bek in Paternoster en die stert in L’Agulhas, die mees Suidelike punt van Afrika, lê.  En die grate van die vis is al die sywaartse paadjies wat van die R44 afkronkel.  Die besoeker kan dus kies hoe hy sy vis wil eet – stukkie vir stukkie, of heel.  Ek spring aan die werk om die roete te ontwikkel.

Nadat my broer my die ja-woord gee en besluit om ook aan boord te kom as Finansiële Direkteur, trek ons los en stig die Ghoema Roete.  Waarom nie Roete 44 nie?  Wees eerlik, wat sê Roete 44 vir jou?  Dink jy aan kontrei-kos en wyn, aan avontuur en kuns-kultuur?  Ek moes fokus indien ek iewers ‘n verskil sou wou maak.  Ek en Jack het immers op die slagspreuk (geërf van ‘n Kaapse groente-verkoper): 'Dis die difference  wat die verskil maak', besluit.  In Afrikaans, vir ons Kaapse besoekers (uiteraard ook verstaanbaar vir die Nederlandse en Vlaamse besoekers!) 

Die bywoning van Dawid Kramer en wyle Taliep Pietersen se musiekblyspel Ghoema, het die seël op die visie geplaas.

Interessantheidshalwe, ‘n Ghoema is ‘n wynvaatjie wat deur die destydse slawe, afkomstig van Indonesië en Batavia, na gebruik in ‘n musiekinstrument (drom) verander is, deur die deksel en bodem te verwyder en dan ‘n varkvel oor te span.  Vandag nog word die ghoema ingespan deur die wêreldbekende Kaapse Klopse (Cape Minstrels) wat tydens die Nuwe Jaar die strate in.

Uniek en outentiek

Ghoema, die perfekte simbool vir wyn- en kultuurtoerisme, die goue draad wat die Roete deurweef: die Weskus (Darling – wynstreek); die Wynlande (Stellenbosch, Paarl, Wellington, Franschhoek) die Kaapse Metropool (Helderberg-wyne) en die Overberg (Hemel-en-Aarde en die Elim-wynstrook)

Stellenbosch alleen het meer as 150 wynlandgoedere.  My taak sou dus wees om die bestaande infrastruktuur (wynlandgoedere met proe-lokale, akkommodasie, avontuur-aktiwiteite, bio-diversiteit en natuurskoon) opnuut te 'verpak' vir die plaaslike toeris.  Meer nog, ek sou aan die plaaslike inwoners moes tuisbring dat hulle ook 'toeriste' is.  En dan die grootste uitdaging tot op hede, om Kultuurtoerisme, nog in sy embrio-fase in Suid-Afrika, te ontwikkel.

Ons trek toe weg met die daarstel van ‘n Feeskaart (2007) – op daardie stadium sou die plaaslike toeris een week voordat ‘n fees sou plaasvind, iewers in ‘n dagblad ‘n promosie-artikel daaroor lees.  Helaas, heel dikwels lees ‘n mens oor die nabetragting.  In beide gevalle is daar frustrasie, aangesien die feesganger sou moes beplan en begroot – lees hy die nabetragting is dit mosterd na die maal.  Terloops, feeste in Suid-Afrika IS ‘n fees!  Buitelandse besoekers doen selde moeite om hulle by te woon, terwyl dit ‘n gulde geleentheid is om kennis te maak met kontrei-kos, wyn van oorsprong, kulturele diversiteit, die kunste, plaaslike karakters en streektaal.

Die Ghoema Roete is tydens die toerisme-Indaba in Durban geloods en die Feeskaart is aan internasionale toeroperateurs bekendgestel.

Kort op die hakke van die Feeskaart, volg Uncork Cape Culture, ‘n roetekaart wat outentieke, unieke ervarings binne ‘n radius van 1-2 uur vanuit Kaapstad uitbeeld.  Hieruit word Top Cellar Door Experiences gebore, nou nader aan die fokuspunt, naamlik wyntoerisme.  En kort voor lank, veertien poskaart-pakkette, elkeen beskrywe vyf tematiese bestemmings soos byvoorbeeld: The Cape Dutch Route, en The Culture Route – selfs  Pub Crawling in the Winelands.  Die moontlikhede, met wyn as sentrale tema, is natuurlik legio.  Die Kaggel-Roete, die Slawe-Roete en dies meer nog in die pyplyn.  Pakkette behels ook ‘n kontant-afslag by die meeste van die bestemmings – so reg in die kraal van die plaaslike en ressessie-bukkende buitelandse besoekers!  Volledig met kaart, GPS ko-ordinate en openingstye, is die Poskaart-reeks ‘n moet vir die onafhanklike, selfgedrewe, nuuskierige besoeker.

Dit, in vinnige versnelling, is die verhaal tot op hede.  Vanjaar het ek my toegespits op kultuur-toerisme, met die klem op die ontwikkeling en bemagtiging van die plaaswerker wat sedert die ontstaan van die wynbedryf  betrokke is maar selde erkenning daarvoor ontvang.  Deur middel van die aanbieding van Kultuur Klinieke, is daar ‘n geleentheid om na ons kultuur-historiese erfenis en eie kultuurgoedere te kyk, inherente talent te ontwikkel (sang, dans, storie-vertel, kookkunst) – en terselftertyd, soos in die geval van die wynplaas Solms Delta, ‘n toerisme platform te skep vir talentvolle plaaswerkers. Met Afrikaans as voertaal onder die hoofsaaklik bruin plaasgemeenskappe, verwag ek om in die proses kosbare juwele te ontdek.

'Money follows a good plan'

Hierdie inisiatief het daartoe gelei dat die nuutgestigte nie-winsgewende entiteit, Stellenbosch 360 (voorheen bekend as Stellenbosch Toerisme), my aangestel het as projek-bestuurder om ‘n splinternuwe Roete op die been te bring.  Dit sal as Roete 360 bekend staan en sal hoofsaaklik fokus op Kultuurtoerisme – geen wonder nie.

Lesse geleer?  Ek sou met menige ander entrepreneur, vanuit ‘n positiewe perspektief, die belangrikheid van verhoudings-bou moes onderstreep.  Passie-volle, doelgerigte, omgee-mense.  Met ‘n arsenaal van kreatiewe gedagtes is die uitdaging om enersyds gefokus te bly, en andersyds om as twee-man bedryf die werk gedoen te kry, in aggenome die geografies wydverspreide ligging van die Roete.

Die grootste uitdaging, in ‘n tydvak waarin veral die wynbedryf gebuk gaan onder finansiële las, en kultuur noodwendig die baie talentvolle maar minder gegoede bruin en swart gemeenskappe by die toerisme-landskap moet inlyf, is om befondsing vir die inisiatiewe in te win – vra maar vir my broer, hy sal dit beaam.  Die voortbestaan van die Ghoema Roete as kollektiewe bemarkingsinstrument – vir al die deelnemende dorpe, produkte en dienste op die Roete, sou afhang van vennootskappe vanuit die publieke en private sektore. Maar, in die woorde van Annemarie Ferns, voorheen verbonde aan die SA Toerisme kantoor in Amsterdam, en tans Hoof Uitvoerende Beampte van Stellenbosch 360: 'Money follows a good plan'.

Zuid-Afrikahuis    Keizersgracht 141-C    1015 CK Amsterdam Nederland    tel: +31-20-6249318    fax: +31-20-6382596