Gender, ubuntu en geweld

Twee relatief onlangse leenwoorde in Afrikaans is gender en ubuntu. Anders as laasgenoemde is eersgenoemde nog nie in die woordeboek opgeneem nie. Dit word dikwels in skuinsdruk geskryf – soos ander nie-Afrikaanse woorde. Nietemin is gender en ubuntu met mekaar vervleg.

 

Brandpunte
Gerrit Brand

 

Ubuntu is ’n Nguni-woord. Die ekwivalent in die Sotho-tale, botho, word nie in Afrikaans gebruik nie. ’n Mens sou dit dalk met “menslikheid” kan vertaal, maar in die oorspronklike tale weerspieël dit ’n spesifieke mensbeskouing verwoord in die spreekwoord (bekend in verskeie Afrikatale): ‘’n Mens is ’n mens deur mense’. Die idee dat mense hul identiteit aan relasies met andere te danke het, is nie uniek aan Afrika-kulture nie. Dink maar aan Martin Buber se Ich und Du, wat duidelik maak dat “ek” en “jy” net saam gedink kan word. Dieselfde is egter nooit dieselfde nie, soos ’n Nederlandse interkulturele filosoof ’n keer gesê het. Afrikane (ek veralgemeen) verstaan nie net dat ons menswees sosiaal bepaal word nie, maar beleef dit ook spontaan so. In Sotho word dikwels aan ’n individu gevra: ‘Le kae?’ (Hoe gaan dit met julle), eerder as ‘O kae?’ (Hoe gaan dit met jou?). Jy en julle is hier meer vervleg as in die Westerse ‘Hoe gaan dit?’ (waar dit nog hoegenaamd in die Weste gevra word).

 

 

Nadelige gender-konstruksies
Die woord gender behoort ook ’n Afrikaanse woord te wees. Dit beteken nie dieselfde as geslag nie. Dit verwys nie na biologiese verskille, aangebore geslagtelikheid, nie, maar na iets wat sosiaal gekonstrueer word. Biologiese manlikheid of vroulikheid is een ding; die verstaan van mense deur gangbare voorstellings en verwagtings van manlikheid en vroulikheid iets anders. Gender verwys na geslagskonstruksies wat in die loop van die geskiedenis verander, tussen kulture verskil en ook ín kulture gekontesteer word.

 

Tot relatief onlangs het “vroulikheid” in die Weste onder meer verwys na iemand wat nie buite die huislike sfeer werk nie. Deesdae is dit nie maar ’n aspek van vroulikheid nie; die gender-konstruksie het verander. Die idee van vroulike huislikheid is in die koloniale era egter na Afrika uitgevoer. Waar vroue in baie Afrika-kulture eers landbouers was, is die Westerse gender-konstruksies oorgeneem; die verbintenis tussen vroulikheid en huislikheid het deel van Afrika-kulture geword. In televisie-advertensies gemik op swart verbruikers is die vrouekarakter dikwels ’n tuisversorgster wat oor skottelgoedseep en gesonde ontbytkos besorg is, terwyl die man, wat in motors en finansiële produkte belangstel, ná werk tuiskom om die maaltyd wat sy vrou liefderyk voorberei het te geniet. Dié gender-konstruksie was 100 jaar gelede onvoorstelbaar in Afrikakulture. Gender verander voortdurend.

’n Algemene misverstand wanneer maatskaplike verskynsels konstruksies genoem word, is dat dit op ontkenning van werklikhede neerkom. Konstruksies is egter net so werklik soos biologiese feite; geboue net so reëel soos bome. Gender is nie minder werklik as geslag nie; dis ’n ander sóórt werklikheid. Gender, ras en ander konstruksies kan nie sommer so uit die weg geruim word nie, maar het ’n eie lewe. Tog beteken die gekonstrueerdheid daarvan, en die onvermydelikheid van verandering, dat skadelike stereotipes bestry kan word. Dis wat vroueregte-aktivisme onder meer behels. Naas die stryd vir regverdiger wette en beleide, en die skep van geleenthede vir vroue, word geveg teen nadelige gender-konstruksies.

Patriargie en geweld
Een gebied waarop in Suid-Afrika sulke konstruksies beveg word, hou verband met geweld teen vroue. Ek skryf hierdie artikel in Augustus, Vrouemaand in SA. Dit het afgeskop met Vrouedag op 2 Augustus, ’n nasionale vakansiedag. Jaarliks is daar 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders. Of dit alles ’n uitwerking op mans se behandeling van vroue het, is moeilik bepaalbaar. Sover ek weet, is daar nie ’n aanduibare afname in die geweld nie, maar dit is moeilik om met sekerheid te bepaal, want daar moet rekening gehou word met die moontlikheid dat meer of minder gevalle aangemeld word. ’n Mens moenie eendimensioneel na komplekse verskynsels soos geweld teen vroue kyk nie. Die meeste vroueregte-aktiviste gaan dus daarvan uit dat hoe ons oor gender práát deel uitmaak van ’n kultuur van geweld teen vroue.

 

Deur bewusmaking word daarom gepoog om gevestigde konstruksies te bestry: Suid-Afrikaners moet leer dat vroue gelykwaardig is en nie slaansakke nie. Mans het nie gesag oor vroue nie. Vroue is nie seks-objekte wat vir manlike bevrediging en voortplanting bestaan nie. Dat ’n vrou sexy aantrek of met ’n man flaneer, beteken nie sy wil by hom slaap nie; nog minder dat sy “daarvoor gevra” het as sy verkrag word. Lesbiërs mag nie deur afkeurende mans “reggehelp” word, soos soms wel gebeur, nie. Kortom, geweld teen vroue is onder geen omstandighede toelaatbaar nie – ’n boodskap waarvan ek die relevansie besef het toe ek as onderwyser in die jare negentig deur skoolkinders (ook meisies) gevra is of ek regtig glo mans mag nóóit hul vrou slaan nie. Is daar dan nie gevalle waar ’n vrou haar só sleg gedra, of so min respek teenoor haar man toon, dat dit sy plig is om haar te dissiplineer nie? het hulle ongelowig gevra.

Op hierdie punt moet nie van ubuntu vergeet word nie. As ’n mens ’n mens is deur ander mense, geld dit vroue ook. Die konstruksie van vroue se menslikheid hou verband met die konstruksie van manlikheid. Daarom word patriargie as ’n sleutelfaktor in die kultuur van geweld teen vroue uitgewys. Deel van die rede hoekom baie mans geregtig daarop voel om gewelddadig teenoor vroue op te tree, en hoekom baie vroue dit gedweë as hul lot verdra, is dat mans as patriarge, hoof van hul gesin, besluitnemers in die samelewing, beskou word. Die emansipasie van vroue, byvoorbeeld in die beroepswêreld, is dus belangrik, nie net omdat dit vroue bemagtig nie, maar ook omdat dit patriargie en verwante gender-konstruksies ondermyn.

Gender-sensitiewe taalgebruik
Daar is een terrein waarop gevestigde gender-konstruksies met betrekking tot manlikheid nie genoegsaam uitgedaag word nie. Selfs waar bedoelings goed is, kan die taal waarin dit uitgedruk word negatiewe vooroordele in stand hou. Dink aan die Weduwees-en-wese-fonds vir gesinne van polisie-lede wat in die stryd teen misdaad sterf. Baie polisievroue sterf ook op hierdie manier, maar die fonds word nie met die term wewenaars benoem nie. Vroue kan as weerlose weduwees gesien word, maar nie as gestorwe helde wat ’n gesin of man sonder heenkome agterlaat nie. Baie vroueregte-aktiviste sal hierdie geval herken as voorbeeld van ’n gebrek aan gender-sensitiewe taalgebruik, maar daar is subtieler diskursiewe praktyke wat in die gesprek oor geweld teen vroue oor die hoof gesien word.

 

Een daarvan is die begrip “geweld teenoor vroue en kinders”. Natuurlik hang hierdie vorms van geweld dikwels saam, maar moet vroue as ’t ware verkinderlik word: swak en hulpeloos teenoor mans as aktiewe geweldenaars. Is daar nie ook vroue wat geweld teen kinders pleeg nie? ’n Gruwelike geval in SA is dié van ’n seuntjie wat gereeld deur sy ma se saamwoon-vriendin fisiek mishandel is totdat hy aan dié geweld beswyk het. Sy pa, wat van die ma geskei was, was bewus hiervan en het voortdurend probeer om die kind onder sy sorg te laat plaas. Hy het meermale die geweld by maatskaplike werkers aangemeld en die liggaamlike bewyse daarvan onder hul aandag gebring, maar tevergeefs. Dat ’n seuntjie deur ’n vrou mishandel word, dat sy ma hierdie geweld aanskou sonder om in te gryp, of dat ’n kind onder sy pa se sorg geplaas word om hom teen die geweld van ’n vrou te beskerm, druis só in teen gevestigde idees oor vroue as alleen maar kinderlike slagoffers van geweld, en mans as geweldenaars teen wie vroue en kinders beskerm moet word, dat dit doodeenvoudig nie geglo is nie.

Dan is daar die feit dat, hoewel veel meer mans as vroue in SA gewelddadig sterf, geweld teen vroue veel meer aandag kry. Daar is ’n Vrouedag, Vrouemaand en 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders, maar geen soortgelyke tye om op geweld teen mans (of “mans en kinders”) of geweld in die algemeen te fokus nie. Miskien kan ’n mens redeneer dat, wanneer mans gewelddadig sterf, dit dikwels in ’n konteks van bendegeweld of straatgevegte gebeur. Dit sou egter ’n erge veralgemening wees. Behalwe vir gevalle soos dié van bogenoemde kinderslagoffer vind daar ook gewetenlose moorde van mans deur vroue plaas. Relatief onlangs was daar byvoorbeeld twee sulke moorde op bekende mans, onderskeidelik ’n regter en ’n bekende musikant, en kort gelede is ’n jong man én vrou aangekla vir ’n bisarre kultiese gruwelmoord in ’n begrafplaas op ’n manlike slagoffer. In geen van dié gevalle word die wandaad as gender-geweld gekonstrueer nie. Mans is ook dikwels, soos vroue, die onskuldige slagoffer van geweld deur ander mans.

Sterk en gevaarlik?
Maar selfs al sou meer mans as vroue weens eie betrokkenheid by geweld sterf, word dikwels misgekyk dat deelname aan sulke geweld met gender-konstruksies met betrekking tot manlikheid verband hou. Mans word as die sterkes gesien, daders eerder as slagoffers – ’n konstruksie wat die ander pool vorm van die voorstelling van vroue as kinderlik, swak en weerloos. Nes die begrippe “ek” en “jy” mekaar impliseer, en soos individuele menswees onlosmaaklik met ander mense verband hou (ubuntu), impliseer die konstruksie van vroue as swak en weerloos dié van mans as sterk en gevaarlik. Dis nie net dat geweld teen mans nie ernstig genoeg opgeneem word nie, maar ook dat daardeur ’n gender-konstruksie in stand gehou word wat tot geweld teen vroue bydra. Mans kan geweld “vat”, anders as vroue, lui die onuitgesproke logika. Mans bewys hul manlikheid deur “vreesloos” in gevaarlike situasies te beland. Dit is dus nou maar eenmaal nie so erg om geweld teen ’n man te pleeg as teen ’n vrou nie. Tog vuur juis hierdie manier van dink geweld teen vroue aan, want mans wat leer om in ’n geweldskonteks “hul man te staan”, is meer geneig tot gewelddadige impulse teenoor vroue. ’n Mens sou kan sê: ’n vrou is ’n vrou deur ander mense, te wete mans – súlke mans. ’n Voorbeeld: baie volwasse mans is, soos baie volwasse vroue, slagoffers van huishoudelike geweld – van vroue wat hul lewensmaat aanrand. Dis ’n bewese sosiale verskynsel, maar hoor ’n mens protes hierteen van aktiviste wat geweld teenoor vroue en kinders beveg? Baie mans word, nes baie vroue, (weliswaar meestal deur ander mans) verkrag, maar in SA val dit nie onder die wetlike definisie van verkragting nie; niemand kan aan die verkragting van ’n man skuldig bevind word nie. ’n Mens hoor min hieroor van aktiviste teen geweld op vroue – al is verkragting van mans ’n algemene verskynsel, onder meer in tronke. Dis asof, in die diskoers oor geweld teen vroue, onbewustelik van gevestigde konstruksie van manlikheid uitgegaan word: mans kan nie slagoffers van geweld wees nie en kan dit mos “vat”.

 

Sy klap hom
Een van die nasionale televisiestasies het dikwels advertensies oor die verskeidenheid van programme wat deur hulle uitgesaai word. In hierdie advertensies word kort uittreksels uit verskeie programme vertoon waarin ’n bepaalde tema die samebindende element is. In al die tonele sal ’n paartjie byvoorbeeld passievol soen, of sal iemand ’n snaakse gesig trek. Al die advertensies adem ’n lighartige gees. Relevant vir die tema van gender-konstruksies is een van hierdie advertensies met as samebindende tema vroue wat mans klap. Hoe gereeld is daar nie so ’n tema in TV-programme nie? Die vrou vind uit haar man was ontrou en klap hom. Die man sê iets leliks vir sy vrou; sy klap hom. Die man lieg vir haar; sy klap hom. Opvallend is dat, in sulke tonele, kykers spontaan met die vrou identifiseer: die man verdien ’n klap. Dis ewe opvallend dat die meeste sulke tonele uit sitkoms geneem is – die kyker kry lag daaroor. Ook die aanbieding van die advertensie is, nes by die ander advertensies, lighartig; dis ’n feel-good-advertensie. Sou kykers dit ewe grappig en lighartig vind as die tonele mans gewys het wat vroue klap? Tog hoor ek nie gender-aktiviste protesteer nie. Weer eens: Dis nie net dat geweld teen mans geïgnoreer word nie, maar ook dat die konstruksie van manlikheid wat agter hierdie stilswye skuil gevaarlike konstruksies van vroulikheid bevestig. Die stilswye misken nie net die lot van manlike slagoffers nie, maar verydel ook diskursief die oogmerk van aktivisme teen geweld teenoor vroue.

 

Dat ’n mens deur ander mense mens is, is nie altyd goeie nuus nie.

 

Gerrit Brand is als senior lector systematische theologie verbonden aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel. Zijn blog, DinkNet, is te lezen op www.litnet.co.za.

Zuid-Afrikahuis    Keizersgracht 141-C    1015 CK Amsterdam Nederland    tel: +31-20-6249318    fax: +31-20-6382596