Polemiek FW de Klerk Stigting – Hermann Giliomee

In het herdenkingsnummer voor Nelson Mandela dat in december 2013 verscheen, schreef historicus Hermann Giliomee een kritische bijdrage over Mandela's iconische status. Op dit stuk kwam een reactie van Dave Steward, uitvoerend directeur van de FW de Klerk Stigting. In zijn reactie maakte Steward bezwaar tegen het beeld dat Giliomee in zijn stuk schetste van de rol van toenmalig president F.W. de Klerk tijdens de overgang naar een democratisch Zuid-Afrika. De redactie heeft Hermann Giliomee om commentaar gevraagd op de reactie van Dave Steward. De drie stukken worden hier bij elkaar gepubliceerd.

Mandela’s ikoniese status – enkele kritiese kanttekenings

door Hermann Giliomee

Nelson Mandela word met goeie reg beskou as een van die groot leiers van die twintigste eeu. ‘n Mens kan egter vrae stel oor ‘n Mandela-manie waar alle sin vir proporsie verlore gaan.

Richard Stengel, wat Mandela se outobiografie help skryf het, sien Mandela as ‘the man who overthrew apartheid and created a non-racial South Africa’. Om Mandela te sien as die man wat apartheid omver gewerp het, is egter vergesog. Toe FW de Klerk en sy kabinet in Desember 1989 besluit het om met die ANC te onderhandel en Mandela vry te laat, was die staat nie op die punt om te val nie. Die openbare orde was genoegsaam herstel vir die regering om met onderhandelings vanuit ‘n redelike sterk posisie te begin.

Mandela het ook min te doen gehad met die gewelddadige ‘people’s war’ waarmee die ANC teen middel-1992 beheer oor die meeste swart woongebiede verkry het en waarmee gesorg is dat kiesers hier ‘n blokstem op die ANC uitbring. Die aanduidings is dat Mandela min van hierdie stryd geweet het en ook nie veel vrae gestel het nie.

Die groot vraag oor die bewindsverandering is nie hoe die ANC die regering omver gewerp het nie maar waarom die De Klerk-regering die mag uit sy hande laat gaan het. De Klerk het min gebruik gemaak van die advies van sy militêre generaals en selfs van sy Nasionale Intelligensiediens.

Nie-rassigheid

Die ANC se nie-rassigheid was strategies (en soms opportunisties) eerder as prinsipieel. ‘n Held in eie reg was Neville Alexander, wat vir tien jaar saam met Mandela in die tronk op Robbeneiland was en dikwels indringende gesprekke met hom gehad het. Soos Alexander in sy boek An Ordinary Country (2002) opmerk, is nie-rassigheid nie Mandela se ‘natural ambience’ nie (p. 54). Sy denke hieroor is in die 1950’s gevorm. Vir Mandela het ‘Africans’ die eintlike nasie gevorm wat aan al die minderhede ruimte moet gee. Dit was die United Democratic Front, wat in die jare tagtig as ANC-surrogaat gefunksioneer het, wat op nie-rassigheid aangedring het. Spoedig na die ANC aan die mag gekom het, het die klem na swart bemagtiging verskuif.

Meerderheidsregering

In Mandela se termyn as president het die regering op groot skaal van kundigheid in die staatdiens ontslae geraak, en in die meeste gevalle mense sonder ondervinding in hul plekke aangestel. Die verswakte staat wat dreig om ‘n mislukkende staat te word het hier begin.

Onlangs het Gerrit Olivier, eers akademikus en toe diplomaat, geskryf dat die konstitusionele onderhandelings in die eerste helfte van die 1990’s sou misluk het as Mandela nie daar was nie. Volgens hom het die ‘chemistry’ wat die skikking laat werk het, verdwyn toe Mandela van die toneel verdwyn het. Die politieke en grondwetlike stelsel laat, volgens dié skrywer, korrupsie en magsmisbruik toe en omdat Mandela tans nie meer daar is nie, maak die staat hom tans skuldig aan magsmisbruik en korrupsie op groot skaal. Daar is in die woorde van Olivier nou net `n ‘dictatorship of the majority’.

Die ironie is dat dit juis Mandela was wat volhardend op ‘gewone’ meerderheidsregering aangedring het. Daarmee het hy die Brits-Amerikaanse variant van ‘n liberale demokrasie bedoel. Daar was van die begin af sterk bedenkinge daaroor of dit die gepaste politieke stelsel vir Suid-Afrika as ‘n diep-verdeelde samelewing is. Magsdeling, wat daarvoor voorsiening maak dat al die vernaamste groepe hul rol in die regering speel, is waarskynlik `n veel doeltreffender regeringstelsel, wat betref ekonomiese groei en die verskaffing van dienste.    

Waardigheid vir elke individu

Mandela se groot bydrae tot die vestiging van `n demokrasie lê op ander vlakke. In die tronk wou hy nooit sy vryheid koop deur geweld af te sweer as voorwaarde vir sy vrylating nie. Met sy geduldige, beredeneerde betoë het hy die verteenwoordigers van die regering oorreed om ‘n volwaardige demokrasie gunstig te oorweeg. Omdat hy so onverbiddelik was dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party saam moes onderhandel, het alle faksies in die ANC in die skikking ingekoop.

Vir Mandela het demokrasie daaroor gegaan dat dit die waardigheid van alle individue vestig en uitbou. Mandela dit so geformuleer: ‘Ons definisie van die vryheid van die individu word bepaal deur ons basiese strewe om die waardigheid van elke Suid-Afrikaner te erken.’

Dit is hoe Mandela hom versoen het met die mense wat hom so lank in die tronk gehou het, wat die toon vir ´n hele samelewing aangegee het. Hy het die daad by die woord gevoeg deur die weduwees van vorige blanke leiers te onthaal en die Springbok-rugbytrui aan te trek.

Hermann Giliomee (1938) was hoogleraar Politieke Studies aan de Universiteit van Kaapstad (1983-1998), president van het Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede (1995-1998) en mede-oprichter van het Afrikaanstalige opinieblad Die Suid-Afrikaan (1984). Momenteel is hij buitengewoon hoogleraar Geschiedenis aan de Universiteit van Stellenbosch. Tot zijn belangrijkste publicaties behoren The Afrikaners – Biography of a people (2003), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (2007, samen met Bernard Mbenga)en Die laaste Afrikanerleiers (2012).

Reactie van FW de Klerk Stigting op Hermann Giliomees

bijdrage aan het Mandela-nummer

door Dave Steward, Uitvoerende Direkteur FW de Klerk Stigting

In sy artikel oor Mandela se ikoniese status maak Hermann Giliomee die merkwaardige stelling dat “Die groot vraag oor die bewindsverandering is nie hoe die ANC die regering omver gewerp het nie, maar waarom die De Klerk-regering die mag uit sy hande laat gaan het.   De Klerk het min gebruik gemaak van die advies van sy militêre generaals en selfs van sy Nasionale Intelligensiediens.”

Dit is merkwaardig dat een van Suid-Afrika se mees bekende geskiedkundiges - wat die oorgangsproses bestudeer en wyd daaroor geskryf het - klaarblyklik so min begrip het van wat eintlik in die vroeë 90-jare plaasgevind het; die opsies wat vir President De Klerk beskikbaar was;  en die korrekte rol van die veiligheidsmagte.

In die eerste plek, is dit nie waar dat die ANC die NP-regering “omvergewerp het” nie (soos Giliomee self aan die begin van sy artikel toegee). Daar was deurgaans grondwetlike kontinuiteit in die oorgangsproses. Ons eerste demokratiese verkiesing het op 27 April 1994 plaasgevind ingevolge die tussentydse (interim) grondwet wat in Desember 1993 deur die ou Suid-Afrikaanse parlement aanvaar is.  Die nuut-verkose parlement - sittende as ‘n grondwetlike vergadering - het in 1996 die finale grondwet aanvaar, binne die raamwerk van 34 onveranderlike beginsels.  Die 1993 en 1996 grondwette het volledig voorsiening gemaak vir die daarstelling van ‘n nie-rassige grondwetlike demokrasie, onderworpe aan die oppergesag van die reg, en het die redelike regte van alle Suid-Afrikaners en van al ons gemeenskappe beskerm.

Op 10 Mei 1994, toe president Mandela ingehuldig is, het FW de Klerk nie die mag aan die ANC oorgedra nie:  hy het die mag aan ‘n nuwe en soewereine grondwet oorgedra.  Die ANC het beslis nie die NP-regering “omvergewerp” nie, net so min as wat President Obama in 2008 die Republikeinse administrasie “omvergewerp” het.

Glo Giliomee regtig dat dit vir President De Klerk moontlik of wenslik sou wees om die mag in sy hande te behou?  Die hele punt van die onderhandelingsproses was om van die aberrasie van wit-minderheidsoorheersing ontslae te raak en ‘n nuwe bedeling te skep - ‘n bedeling waarin die mag, soos in die geval van alle normale demokrasieë, in die hande van alle landsburgers binne die raamwerk van ‘n sterk grondwet sou setel. 

De Klerk sou dwaas gewees het indien hy nie die sameloop van geleenthede, wat teen die einde van 1989 ontstaan het, benut het  om onderhandelinge te begin nie.  Dit het ingesluit die ineenstorting van internasionale kommunisme, die herstel van orde binne Suid-Afrika en die suksesvolle implementering van die VN se onafhanklikheidsplan vir Namibië.  De Klerk het besef dat die magsbalans nooit weer so voordelig sou wees vir die onderhandeling van ‘n gebalanseerde grondwet nie.  Hy het egter ook besef dat onderhandelinge noodwendig sou beteken dat die mag nie langer uitsluitlik in die hande van die wit minderheid sou bly en behoort te bly nie.

En wat dink Giliomee moes die rol van die “militêre generaals” en die NIS op hierdie stadium gewees het?  De Klerk het dit vir hulle duidelik gemaak dat dit hul taak was om voort te gaan om die staat te verdedig en om openbare orde te handhaaf - take wat hulle oor die algemeen met sukses en toewyding onder moeilike omstandighede verrig het.  Die oplossing van die land se grondwetlike probleme en die onderhandelings was egter tereg die verantwoordelikheid van die verteenwoordigers van al Suid-Afrika se belangrikste politieke partye - en nie van militêre en intelligensie raadgewers nie.

De Klerk stem met Giliomee saam dat dit beter sou gewees het indien die onderhandelende partye kon ooreenkom op die insluiting van een of ander vorm van magsdeling op die uitvoerende vlak in die finale grondwet.  De Klerk en die Nasionale Party het alles in hul vermoë gedoen om so ‘n ooreenkoms te bereik maar was nie suksesvol nie - hoofsaaklik omdat die ander minderheidspartye geweier het om magsdeling te ondersteun. 

Hoe dit ookal sy, die nuwe grondwetlike bedeling het sedert 1994 redelik goed gefunksioneer.  Ondanks al die huidige uitdagings, is Suid-Afrika ‘n funksionerende grondwetlike demokrasie met ‘n sterk handves van regte; dit het 20-jaar van ekonomiese groei (behalwe vir 2009) beleef en dit is weereens ‘n gerespekteerde lid van die internasionale gemeenskap.  Dit sou nie gebeur het indien De Klerk nie besluit het om “die mag uit sy hande” - en uit die hande van die wit minderheid  - te laat gaan nie. 

Repliek op Dave Steward se kommentaar

deur Hermann Giliomee

Dave Steward se kommentaar op my artikel ("Mandela’s Ikoniese Status", Maandblad Zuid-Afrika, Januarie 2014) noop my om te reageer. Ek doen dit met ‘n mate van huiwering.

Historici is soms geneig om hul agterna kennis te misbruik om onbillike oordele te vel oor  politieke leiers wat in oomblikke groot besluite met gewigtige gevolge moet neem. Ek wil my nie daaraan skuldig maak nie.

Ek antwoord op Steward se kritiek omdat die wyse waarop wit oorheersing tussen 1990 en 1996 beëindig is steeds sowel kenners as die algemene publieke fassineer. Selde indien ooit in die geskiedenis het ‘n regime die mag prys gegee terwyl sy veiligheidsmagte, staatsamptenare en primêre ondersteunersgroepe grootliks verenig agter hom was en die ekonomie, hoewel onder druk, nie op sy knieë nie.

In my artikel in Maandblad Zuid-Afrika som ek in net drie reëls ‘n verhaal op wat ek in meer as 150 bladsye vertel in my boek The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power. Dit is pas deur die University of Virginia Press in die VSA en Europa gepubliseer.

My woorde, wat deur Steward aangehaal word, lui soos volg:

“Die groot vraag oor die bewindsverandering is nie hoe die ANC die regering omver gewerp het nie, maar waarom die De Klerk-regering die mag uit sy hande laat gaan het.   De Klerk het min gebruik gemaak van die advies van sy militêre generaals en selfs van sy Nasionale Intelligensiediens.”

Steward skryf in reaksie l dat dit merkwaardig is dat ek “so min begrip het van wat eintlik in die vroeë 90-jare plaasgevind het; van die opsies wat vir President De Klerk beskikbaar was; en van die korrekte rol van die veiligheidsmagte.”

Nie almal dink so nie. Tony Leon, wat self aan die onderhandelinge deelgeneem het en later leier van die Demokratiese Alliansie geword het, noem my boek op die buiteblad “utterly mesmerising” en prof David Welsh, wat as deskundige raadgewer die DP bygestaan het, beskryf dit as “an excellent book that breaks new ground.” Maar miskien dink Steward hulle begryp ook nie veel van die onderhandelings en die oorgang nie.

Die groot hoekom

Toe ek in 2009 aan die boek begin werk het, het ek met die romanskrywer en Nobel-pryswenner JM Coetzee gekorrespondeer oor die uitdaging vir ’n historikus as hy die magsoordrag in 1994 reg wil begryp. In sy antwoord het Coetzee verwys na die laaste hoofstukke van my vorige boek, The Afrikaners: Biography of a People (University of Virginia Press, 2003), en vervolg:

“In the overall account you offered of the negotiations the party that held political power – the NP – got little of what it wanted and the party without power – the ANC – got what it wanted. There are two ways to explain the outcome. One is that the NP negotiators were incompetent. The other is that the strength of the NP and the weakness of the ANC were more apparent than real. You seem to incline toward the former explanation. What leads you to believe that, in the larger context, the latter is not more valid?” [1]

Dit is inderdaad die sleutelvraag. Die NP het al die “harde” mag gehad. Onder De Klerk se voorganger, President PW Botha, was daar 'n bereidwilligheid om dit binne perke te gebruik en mense op groot skaal op te sluit. De Klerk was nie bereid om dit te doen nie. Die enigste manier waarop harde mag 'n meer gebalanseerde skikking sou kon afdwing, was om nie verder as verpligte magsdeling te gaan nie en die radikale vleuel van die ANC, wat deur die bannelinge gelei is, te isoleer.

Wat die konflik moeilik maak om te ontleed, is die asimmetriese aard daarvan. Die regering het die sekuriteitsmagte agter hom gehad; die ANC breë legitimiteit sowel internasionaal as onder 'n groot deel van die plaaslike bevolking. Platskiet was nie 'n opsie vir die De Klerk-regering nie. Dit sou net sy legitimiteitskrisis verhoog het en sou kon lei na iets waaroor die sakeleier Anton Rupert in Januarie 1986 Pres. Botha gewaarsku het: Nuremberg-verhore van die NP-leiers. [2]

Die mandaat van die wit kieser

Steward skryf dat ek nie 'n besef het van die opsies wat De Klerk tot sy beskikking gehad het nie. Ek dink daar was wel 'n opsie wat De Klerk nie gebruik het nie.

Ek is oortuig daarvan dat gematigde politieke leiers hier en oorsee simpatie sou gehad het as De Klerk van die staanspoor aangevoer het dat hy nie die mag kon oordra sonder die instemming van die mense wat hom verkies het nie – en dit beteken die blanke kiesers. Ook die meer pragmatiese ANC-leiers het besef dat dit amper onmoontlik sou wees vir die beweging om die land te regeer indien die wit kiesers, wat ook die grootste belastingbetalers was, vervreem was. De Klerk, en nie Nelson Mandela nie, het die sleutel gehou tot blanke aanvaarding van `n ANC-bewind en 'n vreedsame magsverwisseling.

In die geval van die konflik in Noord-Ierland het die Britse regering baie goed besef hoe noodsaaklik dit was dat die oorgang na 'n nuwe stelsel deur al die partye as legitiem beskou moet word. In die terme van die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 1998 is bepaal dat die kiesers ten volle ingelig moes wees oor die onderhandelde grondwet voor hulle hul stem in `n referendum daaroor uitbring. Die wete  dat 'n referendum oor die grondwet gehou gaan word,  het die onderhandelaars tot die einde daarop ingestel om 'n skikking te kry wat breë aanvaarding geniet.

In Suid Afrika is die laaste blanke verkiesing in 1989 gehou en dit was ook die eerste verkiesing onder De Klerk se leierskap. Die NP het gewen maar sy steun het vir die eerste keer in dertig jaar tot onder 50% van die kiesers gesak. Die verkiesing is gewen op grond van die party se grondwetlike voorstelle, wat redelik konserwatief was. Dit het voorsiening daarvoor gemaak dat die rassegroepe selfbeskking in eie sake het en die mag deel in algemene sake.

Op 31 Maart 1990, ses weke nadat die De Klerk-bewind die verbod op die ANC en sekere ander buite-parlementêre organisasies opgehef het, het De Klerk onderhandelinge vir 'n nuwe grondwet in die vooruitsig gestel. Hy het toe verklaar dat “die grondwetlike voorstelle op 'n grondwetlike wyse by die kiesers getoets [sal] word. Net met hul toestemming sal 'n nuwe bedeling ingevoer word.”

In September 1991, voor die onderhandelinge in die Kodesa-forum begin het, het die NP op 'n federale kongres 'n nuwe beleid aanvaar. Dit het voorsiening gemaak vir veelparty verteenwoordiging in die kabinet wat besluite deur konsensus moes neem en 'n presidensie bestaande uit die leiers van die drie grootste partye en 'n voorsitterskap wat roteer. In plaaslike verkiesings sou daar twee lyste wees, een algemene lys en een vir diegene wat eiendom besit en huur.

In Januarie 1992 het De Klerk in die Parlement gesê dat enige belangrike verandering in die NP-voorstelle ’n referendum sal vereis waarin elke Suid-Afrikaner kan deelneem en waarin die uitslag sowel globaal as by wyse van die kiesersrolle van die Driekamer Parlement bepaal sal word. [3]

Nege maande later, toe die NP in die onderhandelings besig was om al verder van sy beleid te beweeg, het Colin Eglin van die Demokratiese Party gesê De Klerk was “very naughty” om te beweer dat hy by sy beloftes hou. Hy het daarop gewys dat De Klerk in sy referendum-veldtog gesê het hy vra nie vir 'n blanko tjek nie; hy vra `n “Ja”-stem vir die 1991-beleid wat die NP se federale kongres aanvaar het. [4]

Die NP se uitgesproke beleid was magsdeling. Die belangrikste belofte wat De Klerk persoonlik en die NP as party in die referendumveldtog van Februarie en Maart 1992 gemaak het, is dat die NP net vir magsdeling sal skik en meerderheidsregering soos wat in Brittanje en die VSA voorkom, verwerp. In 'n volbladadvertensie wat die NP die dag voor die referendum geplaas het, is die banieropskrif: “As jy bang is vir meerderheidsregering stem ‘Ja”. [5]

In die referendum is die volgende vraag gestel: “Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op 'n nuwe grondwet deur onderhandelinge gerig is?” Lawrence Schlemer, waarskynlik die skerpste en mees ingeligte politieke ontleder in die land, het verklaar dat ‘n “ja”-stem geen mandaat vir meerderheidsregering was nie. Daar sou nooit 'n “ja”-stem met 'n tweederdes meerderheid gewees het nie indien daar sprake daarvan was dat die ANC in 'n posisie sou kon kom waar dit alleen kon regeer.

Die harde waarheid is dat die De Klerk-regering nie 'n mandaat gehad het vir die interim-grondwet wat in 1994 deur die Parlement aanvaar is nie. Vandag kan mens net gis wat die ANC-leierskap sou gedoen het as hy van die staanspoor geweet het dat die NP net sou instem tot 'n grondwet waarvoor hy (die NP) 'n mandaat by sy kiesers het.

Verloop van die onderhandelings

In die persdebat wat oor die toekomstige politieke stelsel gevoer is was daar soms pogings om aandrang van De Klerk vir magsdeling af te maak as 'n begeerte om aan die “perks of office” vas te klou. Die werklikheid is dat 'n hoogsverdeelde samelewing soos Suid-Afrika waarskynlik alleen met magsdeling doeltreffend regeer kan word. In 1997 het Vernon Bogdanor, Professor van “Governance” aan Oxford Universiteit, in die invloedryke tydskrif Daedalus geskryf: “Some kind of power-sharing has been a feature of all societies that have successfully overcome their internal divisions.” [6]

Dit was die eskalasie van openbare proteste wat die ANC in Junie 1992 van stapel gestuur het en wat meer as drie maande geduur het, wat die regering laat swig het. Dit wil voorkom of De Klerk nie in hierdie kritieke uur die bevelvoerende offisiere in die polisie of die weermag geraadpleeg het oor die opsies wat vir hom beskibaar was nie. Van die senior militêre offisiere het gevoel dat geen politieke akkoord gesluit kon word terwyl so baie van die swart woongebiede buite die staat se beheer was nie, veral as gevolg van konflikte tussen die ANC en Inkatha. Ook voel hulle sterk daaroor dat die De Klerk-regering 'n groot fout begaan het om met die inkorporering van ANC-kaders in die Weermag te begin 'n jaar voor 'n skikking oor 'n tussentydse grondwet bereik is.

In die sogenaamde Akte van Verstandhouding van 26 September 1992, geteken deur die regering en die ANC, het die ANC die oorhand gekry. Op die dag het Kobie Coetsee, Minister van Justisie en gewoonlik 'n sterk De Klerk-bondgenoot, aan Rina Venter, Minister van Gesondheid, gesê: “Vandag het ons die land verloor.” [7] Die ANC sou in die loop van die volgende vyftien maande al die regering se voorstelle vir magsdeling van die tafel af vee.

Hernus Kriel, Minister van Polisie, oordeel dat dit 'n fout was van die De Klerk-regering om nie uit te hou in die wintermaande van 1992 toe die ANC sy program van massaproteste van stapel gestuur het nie. Hy verwerp enige suggestie dat die regering besig was om sy houvas te verloor. Na sy mening moes die ANC verplig word om ook 'n groot toegewing te maak ten einde die onderhandelings weer op dreef te kry. “Ons het die mag uit die hande laat gaan”, is sy oordeel. [8]

In die stimulerende boek van David Reynolds, getitel Summits, word van die vernaamste spitsberade tussen wêreldleiers ontleed. Hy kom tot die gevolgtrekking dat sulke berade net suksesvol is indien albei partye 'n geloofwaardige afskrikmiddel of afskrikmeganisme gehad het. Genl. Johan van der Merwe, wat gedurende die tagtigerjare hoof van die Veiligheidspolisie en later hoof van die Suid-Afrikaanse Polisie was, sê hieroor die volgende:

“Op die ou end het die De Klerk-regering geen meganisme gehad waarop dit kon terugval nie. My indruk was deurgaans dat die Nasionale Party die oomblik toe hy hom in die onderhandelinge begewe het, in ‘n drukgang beland het. Hulle kon nie weer omdraai nie. Volgens alle aanduidings sou hulle nie weer ‘n verkiesing volgens die Grondwet wat toe gegeld het, gewen het nie. Ek het persoonlik verskeie samesprekings bygewoon waar daar tydens die onderhandelinge ‘n krisis ontstaan het en sekere van die beginsels wat aanvanklik as ononderhandelbaar bestempel is, deur die ANC verwerp is. Ek onthou by een geleentheid het Pik Botha driftig en bitsig gesê dat die ANC nie in magsdeling belangstel nie, hulle wil al die mag hê. FW de Klerk het telkens die een vraag gestel: “breek ons op die punt” en dan het die harde werklikheid tot almal deurgedring en is daar maar telkens aan die eise van die ANC toegegee.

My persoonlike indruk is dat insonderheid FW de Klerk en sy raadgewers in ‘n groot mate mislei was deur Mandela se aanvanklik inskiklike en welwillende houding. Ek het as gevolg van die feit dat ons oor baie jare geleentheid gehad het om ‘n intensiewe studie van Mandela as persoon te maak, telkens gewaarsku dat hy ‘n gevaarlike politieke teëstander is. FW de Klerk het later teenoor my persoonlik erken dat hy hom terdeë met Mandela misgis het. Al hierdie faktore het daartoe gelei dat dit by FW de Klerk en die NP aan waagmoed ontbreek het om tydens die onderhandelinge standpunt in te neem en as ‘n dooie punt bereik was, volgens die moed van hulle oortuiging te handel. [9]

De Klerk kon nie in hierdie kwessie op steun van die internasionale gemeenskap staat maak nie. Anthea Jeffery, skrywer van People’s War, merk tereg op:

The international community let De Klerk down: for example, after Codesa 1 when he demanded the disbanding of Umkhonto and Mandela refused. If the West had backed him, it would have strengthened his position in insisting on this reasonable demand. The West must also have understood the ANC’s role in violence, yet it never went public in condemning this. [10][10]

Maar die NP se grootste probleem het in die kabinet self gelê. Hernus Kriel beskryf die probleem so:

Ons het geen plan gehad nie, geen strategie nie, geen bottom line waar ons nie verder sou toegee nie, geen duidelikheid oor die punt waar ons wou uitkom nie. Daar was hoeveel keer in die kabinet dat FW [de Klerk] met sy vuis op die tafel geslaan het wanneer [Roelf Meyer, regering se hoofonfderhandelaar] oordra dat die ANC iets wat ons gevra het, verwerp en hul eie eise gestel het. FW het dan gesê: “Ons kan nie hierop toegee nie, dit kan ons nie aanvaar nie. Hier trek ons die streep.” Dan gaan Roelf terug en Cyril [Ramaphosa, die ANC se hoofonderhandelaar] neem stelling in en drie weke later kom dieselfde kwessies weer op en dan aanvaar ons die ANC se eis sonder enige verdere slag of stoot.

Die hele laaste jaar van die onderhandelinge het drie of vier van ons aangedring dat die kwessie van amnestie afgehandel moet word voor ons aangaan met die onderhandelinge. Dan sê Kobie Coetsee: “Toemaar, kollegas, ek het alles onder beheer. Ek sal binnekort alles beklink”. En dan laat FW hom maar begaan en ons val in. [11]

Die rol van adviseurs

Steward skryf: “Die 1993- en 1996-grondwette het volledig voorsiening gemaak vir die daarstelling van ‘n nie-rassige grondwetlike demokrasie, onderworpe aan die oppergesag van die reg, en het die redelike regte van alle Suid-Afrikaners en van al ons gemeenskappe beskerm. Hy laak ook my stelling dat die De Klerk-regering die mag uit sy hande laat gaan het en dat een rede daarvoor was dat hy min gebruik gemaak het van die advies van sy militêre generaals en intelligensiediens. Hy skryf:

De Klerk het dit vir hulle duidelik gemaak dat dit hul taak was om voort te gaan om die staat te verdedig en om openbare orde te handhaaf… Die oplossing van die land se grondwetlike probleme en die onderhandelings was egter tereg die verantwoordelikheid van die verteenwoordigers van al Suid-Afrika se belangrikste politieke partye – en nie van militêre en intelligensie raadgewers nie.

Natuurlik is dit die verkose leiers wat uiteindelik die finale besluite moet neem. Maar leiers van moderne state wat gewikkel is in ‘n stryd teen gesofistikeerde versetbewegings vertrou in ‘n belangrike mate op kundige advies van hul strategiese adviseurs. Dit gebeur op ‘n vaste grondslag. Israël is ‘n goeie voorbeeld.

Dit is te betwyfel of Suid-Afrika in die 1980’s beheer oor die sekuriteitsituasie sou herwin het sonder die beraadslagings wat op die Staatsveiligheidsraad (SVR) plaasgevind het en die strategieë wat daaruit voortgevloei het. Daar was min rede om in 1990 aan te neem dat stabiliteit en normale politiek in die townships aan die orde van die dag sal wees net omdat die NP-regering aangekondig het dat daar nou vir ‘n grondwet onderhandel sou word. De Klerk het nietemin die SVR op ‘n syspoor geplaas.

Soos die studie People’s War aantoon, het die ANC van 1990 met aansienlike geweld beheer van baie townships geneem. [12] Ook die destabiliserende aktiwiteite van ‘n seksie van die sekuriteitsmagte kon beter aan bande gelê word deur ‘n liggaam soos die SVR.

Met kundige advies van die kant van die militêre en nasionale intelligensie bedoel ek hul strategiese insigte en die kundigheid wat hulle oor die jare verwerf het, veral in gesprekke met kontakte in lande soos Brittanje, Israël ens.

Wat die NP-regering ook ontbreek het, was profielontledings van die ANC-leiers en deskundige advies oor die strategieë en taktieke van onderhandelings. In die mynmaatskappye was daar mense soos Naas Steenkamp en Johan Liebenberg, wat gedurende die 1980s in loononderhandelinge uitgebreide ervaring opgedoen het van Cyril Ramaphosa, wat aan die spits gestaan het van die ANC-span in die grondwetlike onderhandelinge van die 1990s. As onderhandelaars het De Klerk politici gekies met min ervaring, veral nie met die gedugte onderhandelaars van die ANC nie.

‘n Grondwet... En dan?

Dit bring my by die laaste en miskien belangrikste punt. Die NP was genoodsaak om die ANC te vertrou dat hy die grondwet sou uitvoer in die gees waarin dit onderhandel en aangeneem is. Die twee partye het totaal verskillende opvattings gehad oor wat `n grondwet beteken: vir die NP was dit `n bindende kontrak wat net met die toestemming van albei partye verander kon word; vir die meeste ANC-leiers was dit net 'n halfwegstasie op die pad na 'n Nasionale Demokratiese Rewolusie waarin ANC-beheer oor al die sleutelposte en staatsbeheer oor die ekonomie nagestreef word.

In Januarie 1997 het De Klerk in ’n toespraak in Londen erken dat die onderhandelings nie uitgeloop het op die gebalanseerde politieke skikking waarna die NP gestrewe het nie. Die blankes het die mag prysgegee en hul “soewereiniteit” verloor. Hy het vervolg:

Die besluit om die reg tot nasionale soewereiniteit prys te gee is sekerlik een van die pynlikste besluite wat enige leier kan neem. Baie nasies is bereid om die risiko van oorlog en ’n katastrofe te loop eerder as om hierdie reg prys te gee. Tog was dit die besluit wat ons moes neem. Ons moes die noodsaaklikheid aanvaar om die ideaal waarmee ons grootgemaak is en die droom waarvoor so baie geslagte ’n stryd gevoer het en waarvoor so baie van ons mense gesterf het, te laat vaar. [13]

Om te dink, soos wat Steward klaarblyklik doen, dat die Grondwet en die Grondwetlike hof hierdie geskille bevredigend kon besleg, is onrealisties. Daar was nóg by die ANC nóg by die NP ‘n tradisie om ‘n hof toe laat om brandende politieke geskille op te los. ‘n Nuwe doktrine het egter  gedurende die 1970’s in die Westerse wereld ontstaan dat minderheidsregte in die ontwikkelende wêreld voldoende beskerm kan word deur verskanste individuele regte, onafhanklike howe en `n lewenskragtige burgerlike gemeenskap. Teen die vroeë 1990’s het ontnugtering ingetree. [14] ‘n Algemene neiging was dat opposisiepartye in brandende kwessies die wetgewer probeer omseil het deur hulle na die howe te wend en dat die regerende party teenstand bied deur aanstellings op die regbank te manipuleer.

Dit is in die afgelope jare aan die gebeur in Suid-Afrika. Die NP-regering onder De Klerk het sy hoop op die regbank geplaas om by die gebrek aan magsdeling  'n behoorlike balans in die regeringstelsel te bring. Daar was egter sover bekend nie 'n behoorlike ontleding van die vraag of die ANC hom veel aan die soewereiniteit van die grondwet en die onafhanklikheid van die howe sou steur nie

Die beweging was en is nog steeds verbind tot “'n Nasionale Demokratiese Rewolusie” wat in feite 'n rewolusionêre omwenteling van die samelewing beoog. Soos wat Steward  self meld, is die doel 'n “nasionale demokratiese samelewing". Dit sal gekenmerk word deur “demographic representatives in the public and private sectors, the racial redistribution of wealth and land; and control of the levers of state power (including the judiciary) by the ‘democratic forces’”. [15]

Dit het gou geblyk dat die Grondwethof nie veel van 'n teenwig vorm teen die aanslag van die uitvoerende en wetgewende gesag wat onder die beheer van die ANC staan nie. Die organisasie kon veral gedurende die eerste dekade aan bewind staat maak op getroue ondersteuners in die burgerlike samelewing, onder andere leidende figure in die regsberoep.

Daar is deesdae vooraanstaande regsgeleerdes wat sonder veel vrees vir teenspraak sê dat die Grondwethof behoort nie die 1996 Grondwet gesertifiseer het nie omdat dit indruis teen die skeiding van magte. Op die Regterlike Dienskommissie (RDK), wat regters vir aanstelling by die President aanbeveel, is verteenwoordigers van die wetgewende en uitvoerende gesag – en hulle is omtrent almal ANC-lede – amper drie keer meer as die klein minderheid bestaande uit mense genomineer deur  dienende regters en ander lede van die regsprofessie.

In onlangse tye was daar op die RDK gereeld 'n stemming van tussen 23 en 25 teen 8 teen uitstaande kandidate met 'n bewese rekord van onafhanklike uitsprake oor sleutelkwessies wat die politiek en howe raak. [16] Daar is 'n wydverspreide gevoel dat die RDK met ‘n groot ANC-gesinde meerderheid geneig is om volgens partyvoorskrifte vakatures op die regbank te vul.

Steward wys in sy onlangse koerantbrief daarop dat die ANC nooit die NP geraadpleeg het oor sy plan vir 'n vorm van transformasie wat die bevolkingsgetalle van die verskillende gemeenskappe weerspieël nie.

Die belangriker vraag is of die NP-regering in die onderhandelings van die 1990’s wys was om al sy eiers in die mandjie van 'n onafhanklik regbank en onpartydige regters te pak ten einde die akute geskille in die politiek te probeer besleg. Bernard Crick het in sy klassieke werk In Defence of Politics geargumenteer: “The negotiating processes of politics remain the only tested alternative to government by coercion.” [17] Veral in diep-verdeelde samelewings bly politieke onderhandelinge steeds die beste antidoot teen stappe wat voel na politieke dwang, wat soms 'n regterstoga dra.

[1] E-pos boodskap, JM Coetzee aan Skrywer, 14 Desember 2009

[2] Aangehaal in Hermann Giliomee, The Afrikaners: Biography of a People (Cape Town: Tafelberg, Tweede uitgawe 2009), p.622.

[3] Giliomee, The Afrikaners, p. 633.

[4] O’Malley Archives, Onderhoud met Colin Eglin, 3 Augutus 1992.

[5] Sien die tweede laaste foto in die fotoseksie van Hermann Giliomee, The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power (Cape Town: Tafelberg, 2012).

[6] Vernon Bogdanor, “Forms of Autonomy and the Protection of Minorities”, Daedalus,126, 2, 1997, p.66.

[7] Onderhoud van Skrywer met Rina Venter, 10 november 2011.

[8] Onderhoud van Skrywer met Hernus Kriel, 8 September 2010.

[9] E-pos boodskap, Johan van die Merwe aan Skrywer, 31 Januarie 2010.

[10] Anthea Jeffery – Skrywer, 4 Januarie 2010.

[11] Onderhoud van Skrywer met Hernus Kriel, 8 September 2010.

[12] Anthea Jeffery. People’s War: New Light on the Struggle for South Africa(Johannesburg: Jonathan Ball, 2009).

[13] Teks van toespraak van 21 Januarie 1997 uitgereik deur die kantoor van FW de Klerk.

[14] Samuel Moyn, The Last Utopia: Human Rights in History (Cambridge: Harvard University Press, 2010).

[15] Dave Steward, “De Klerk and the Constitution”, brief aan Business Day, 5 Februarie 2014.

[16] Boodskap van senior advokaat, 5 Februarie 2014.

[17] Bernard Crick, In Defence of Politics (London: Penguin books, 1982), skutblad.

Giliomee, De Klerk en Suid-Afrika se grondwetlike oorgang

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Soos Hermann Giliomee opmerk, fassineer “die wyse waarop wit oorheersing tussen 1990 en 1996 geëindig het, steeds beide die kenners en die algemene publiek.” Omdat hierdie debat so belangrik is en omdat die betrokke kwessies so wyd misverstaan word, voel ek dat ek moet reageer op Giliomee se baie lang kommentaar op my verwerping van sy vroeëre tesis dat die De Klerk-regering nie moes toegelaat het dat “mag uit sy hande laat gaan nie.”

Giliomee neem aanstoot oor my kritiek van hierdie merkwaardige standpunt.  

Hy haal die lof aan wat Tony Leon en David Welsh sy boek, Die Laaste Afrikaners, toeswaai, asof dit op een of ander wyse my standpunte weerlê. Ek het egter nie kommentaar gelewer op sy boek, wat met groot applous begroet is nie, maar op sy mening dat De Klerk nie moes toegelaat het dat “die mag uit sy hande laat gaan” nie. Ek sal baie verbaas wees as Leon of Welsh saamstem dat De Klerk die een of ander vorm van vetomag vir die wit minderheid onder die dekmantel van magsdeling moes of kon behou het - veral gegewe die feit dat Leon geweier het om magsdeling gedurende die onderhandelings te steun.

Ek is ’n bietjie angstig om op Giliomee se kommentaar te reageer. Hy is immers ons voorste geskiedkundige en het - moontlik meer in diepte as enige iemand anders - ondersoek ingestel na die magte, faktore en individue wat betrokke was by die transformasie van ons samelewing.

Wat is my eie kwalifikasies? Wel, basies, ek was daar. Ek was vir 20 jaar lank ’n Suid-Afrikaanse diplomaat - wat op daaglikse basis die toenemende internasionale isolasie ervaar het. As Ambassadeur by die Verenigde Nasies (1981-82) het ek tot drie gevolgtrekkings gekom: eerstens, betreffende die diepe betrokkenheid van die Sowjet-Unie in die ANC en in die internasionale veldtog teen apartheid; tweedens, dat ons nie moet staatmaak op hulp van die Weste nie; en derdens dat ons geen erkenning moet verwag met betrekking tot hervorming nie - selfs nie vir die noemenswaardige hervormings wat PW Botha tussen 1978 en 1986 ingestel het nie. 

Wêreldwyd was “een-man, een-stem”, die eis - en in wese die oordrag van mag na ’n meerderheidsregering (dit wil sê die ANC).  Enige iemand wat dink dat die Weste enige iets minder as dít sou steun, verkeer onder ’n wanindruk.  Die meeste wat ons voor kon hoop - selfs van Reagan en Thatcher - was steun vir ’n sterk nie-rassige grondwet en die oppergesag van die reg - iets soortgelyks aan die grondwet wat ons uiteindelik onderhandel het. 

Op soortgelyke wyse maak Giliomee ‘n fout wanneer hy sê dat “gematigde leiers hier en oorsee simpatie vir De Klerk sou hê indien hy van die begin af aangedui het dat hy nie in staat sou wees om mag oor te dra sonder die goedkeuring van die mense wat vir hom gestem het nie - en dit beteken die wit kiesers.” Daar is geen manier dat enige noemenswaardige  land sou aanvaar het dat die wit kieserskorps ’n vetoreg oor toekomstige grondwetlike ontwikkeling sou hê nie - net so min as wat hulle bekommerd was oor die menings van die wit kieserskorps in Rhodesië.  

In 1986 is ek aangestel as hoof van die nuwe Suid-Afrikaanse Kommunikasiediens (SAKD). Ek was ’n lid van die uitgebreide Staatsveiligheidsraad en het gereeld besoek afgelê by ons streekskantore toe die noodtoestand op sy hoogtepunt was. 

Ek het eerstehands ervaar hoe onmoontlik en onaanvaarbaar die voortsetting van minderheidsbeheer oor ’n toenemend ongeduldige en ontevrede swart bevolking was. Ek het die noodtoestand se doelwitte gesteun om orde ter hervestig; om dienste te herstel en om ’n omgewing vir onderhandelings te skep. 

Ek het die draaie gesien waardeur die PW Botha-regering gegaan het betreffende goed-bedoelde pogings om hervorming te bewerkstellig ten einde ’n grondwetlike oplossing te vind wat nie tot die verlies van wit mag sou lei nie. Die grootste manifestasie hiervan, die driekamerstelsel, het egter nooit die steun van die meerderheid van Indiërs en bruin mense gehad nie - en het dit het steeds die finale mag in die hande van wit mense gelaat. Ek het gesien hoe die President se Raad wroeg met voorstelle om voorsiening te maak vir swart politieke regte - deur middel van die daarstelling van ’n “vierde kamer” - of mini-state in die swart stedelike gebiede. Nie een van hierdie voorstelle sou ’n kans gestaan het om deur swart Suid-Afrikaners óf die internasionale gemeenskap aanvaar te word nie.

Die Rubikon wat PW Botha nie wou oorsteek nie was die uiters pynlike aanvaarding dat daar geen oplossing sou wees wat nié onderhandelings met die werklike verteenwoordigers van alle Suid-Afrikaners sou insluit nie - en wat nie onvermydelik sou lei tot die verlies van uitsluitlik wit soewereiniteit nie. Giliomee is geskok dat FW de Klerk dít in soveel woorde tydens ’n toespraak in 1997 in Londen erken het. Hoe verwag Giliomee egter dat wit mense in wese soewereiniteit (dit wil sê hul eie regering en gewapende magte) sou behou in ’n land waar hulle slegs ’n dalende 10% minderheid uitmaak - en waar daar geen streek is waar hulle naastenby ’n meerderheid uitmaak nie?

Enige iemand wat dink dat onderhandelings nié tot ’n ANC-regering sou lei nie, verkeer ook onder ’n wanindruk. Sedert 1986 het SAKD die kabinet ingelig oor gereelde meningopnames wat uitgevoer is en wat daarop gedui het dat die ANC se steun op ongeveer 63% gestaan het; die NP s’n op 20% en die IVP s’n op 10%.

Die beste vooruitsig vir wit Suid-Afrikaners was die onderhandeling van ’n sterk en beregbare grondwet en een of ander vorm van magsdeling.

Dít is wat De Klerk belowe het.

Vanaf 1989 het ek nou met die President saamgewerk - eers as sy kommunikasie-raadgewer, en toe vanaf Oktober 1992 as die Direkteur-gerenaal in sy kantoor. In hierdie posisies het ek soms gedeel in die skrikwekkende mallemeule van onderhandelings.

Wat enige onderhandelings betref is die bepalende faktor die persepsies van die relatiewe mag van onderhandelende partye. In ons geval het ons geweet dat magspersepsies noodwendig teen ons sou begin draai  hoe nader ons aan  ’n finale ooreenkoms gekom het.  Die sleutel tot sukses was gevolglik om die proses van stapel te stuur toe die balans van magte so sterk as moontlik in ons guns was. 

Sodanige geleentheid het aan die begin van 1990 opgeduik - toe al die verkeersligte skielik groen was: De Klerk is verkies as leier deur ’n koukus wat fundamentele verandering gesteun het; Kubaanse magte is uit Angola onttrek; Namibië se onafhanklikheidsplan is op suksesvolle wyse in werking gestel; en - ná die sukses van die noodtoestand - het alle partye uiteindelik saamgestem dat daar nie ’n revolusionêre oorwinning óf ’n oplossing wat deur die veiligheidsmagte afgedwing sou word, sou wees nie. 

Die heel belangrikste gebeurtenis was die val van die Berlynse Muur in November 1989 en die ineenstorting van internasionale kommunisme, wat die internasionale strategiese- en ekonomiese paradigma verander het en die bedreiging wat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party ingehou het, drasties verminder het.

De Klerk het vinnig voordeel getrek uit dié venster wat die geskiedenis skielik oopgemaak het. Hy het inisiatief geneem deur op een slag al die oorblywende hindernisse met betrekking tot die onderhandelings uit die weg te ruim. Hy het dit gedoen tot konsternasie van baie van sy sekuriteitsraadgewers. In sy toespraak van 2 Februarie 1990, en weer voor die referendum in Maart 1992, het De Klerk belowe dat hy ’n sterk, beregbare grondwet en magsdeling sal onderhandel.

Soos Generaal van der Merwe daarop wys, was daar geen omdraaikans toe die onderhandelings eers begin het nie (maar beteken dit dat ons nie onderhandelinge moes begin het nie?). De Klerk het dikwels opgemerk dit herinner hom  aan ’n kanovaarder  wat uit ’n stilstaande moeras geroei het. Voor hy die rivier kon bereik wat na die see vloei, moes hy deur skrikwekkende snelstrome gaan. Sodra die kanovaarder die snelstrome bereik, is hy nie meer heeltemal in beheer nie: hy kan probeer om die rotse en die maalkolke te vermy en hy kan probeer om die kano weer regop te kry indien dit omslaan. Deur die magte van die geskiedenis te ontketen, stel jy jou vanselfsprekend bloot aan risiko. Die risiko verbonde daaraan om nié op te tree nie, is egter veel groter.

Giliomee bevraagteken De Klerk se versuim om ”harde mag” te gebruik soos wat PW Botha van tyd tot tyd gedoen het. Hy suggereer dat “die enigste manier waarop harde mag ‘n meer gebalanseerde skikking sou kon afdwing, was om nie verder as verpligte magsdeling te gaan nie en die radikale vleuel van die ANC, wat deur bannelinge gelei is, te isoleer.”

Dink Giliomee regtig dat De Klerk “harde mag” moes gebruik het om magsdeling teen die wil van die grootste meerderheid Suid-Afrikaners af te dwing? En hoe presies moes “harde mag” gebruik word om die radikale vleuel onder leierskap van bannelinge - met inbegrip van die ANC se hoofleierskap - te “isoleer”?   Moes hy hulle in hegtenis geneem het - of uit die land gestuur het? Dink hy vir ’n oomblik dat Mandela, die res van die ANC-leierskap en die internasionale gemeenskap hiertoe sou instem?  

Enige sodanige optrede sou byna ongetwyfeld  tot die ineenstorting van die onderhandelings en ’n nasionale en internasionale krisis van katastrofiese proporsies gelei het. Dit sou Suid-Afrika onmiddellik van die internasionale gemeenskap uitgesluit het en reuse interne en eksterne steun vir die ANC opgelewer het. Vroeër of later sou die regering gedwonge wees om die onderhandelings te hervat - maar slegs nadat die balans van magte skerp teen hom gedraai het. Dit is die soort fatale fout wat Ian Smith in Rhodesië gemaak het.

Giliomee beweer dat die regering beheer van die situasie verloor het gedurende die ANC se “rolling mass action” tussen Junie en September 1992 en dat De Klerk nie sy militêre en polisieraadgewers op hierdie “kritieke tydstip” geraadpleeg het nie. Dit is doodeenvoudig onwaar. Ek was daar. Hy was daagliks - en soms uurliks - in gesprek met sy sekuriteitsraadgewers - en het beslis nie onder ANC-druk geswig nie.

Hy wou natuurlik hê dat die ANC sy massaoptrede moes staak en het dag en nag daaraan gewerk om hulle na die onderhandelings te laat terugkeer. Maar hy het nie sy sekuriteitsmagte op die ANC-betogers losgelaat ten einde ‘orde te herstel’ soos wat sommige van sy sekuriteitsraadgewers wou hê nie. Volgens Giliomee het Hernus Kriel enige suggestie dat die regering besig was om sy houvas te verloor verwerp.  In stede daarvan het De Klerk kalm gebly. In September 1992 - na afloop van die Bisho-krisis - het die gematigdes in die ANC weer hul beheer herstel en het hulle ingestem om weer in gesprek te tree op grond van die Rekord van Verstandhouding, wat op 26 September onderteken is.

Soos die geval met baie ander waarnemers, interpreteer Gilomee die betekenis van die Rekord van Verstandhouding heeltemal verkeerd, en wys dit uit as die oomblik waarop die ANC die oorhand gekry het. Hy verwys na Hernus Kriel se opmerking dat die ANC na sy mening “gedwing moes word om ’n groot toegewing te maak om die onderhandelings weer op dreef te kry.” 

In die eerste plek was dit van kritieke belang vir die land om die onderhandelinge weer aan die gang te kry. In die tweede plek het die Rekord van Verstandhouding inderwaarheid reuse toegewings deur die ANC ingesluit. Die ANC het ’n groot ommekeer beleef van wat sy posisie was teen die einde van Junie, toe dit sy rug gedraai het op die onderhandelings; toe dit die KODESA-ooreenkoms verwerp het; en toe dit openlik onderneem het om mag te bekom op ’n ononderhandelde wyse. Die party het teruggekeer na die onderhandelings en het ingestem tot al die belangrikste ooreenkomste wat tydens Kodesa bereik is.  Dit het ingesluit die uiters belangrike toegewings dat

  • die minderheidspartye sou die raamwerk van grondwetlike beginsels moes goedkeur waarbinne die  finale grondwet opgestel sou word;
  • daar grondwetlike kontinuiteit  gedurende die oorgangstydperk sou wees;
  • daar ’n oorgangsregering van nasionale eenheid sou wees;
  • die tussentydse grondwet voorsiening  vir streeksregerings sou maak; en
  • beregbare fundamentele regte en vryhede daarin verskans sou word.

Volgens enige objektiewe maatstaf is dit die ANC - en nie die regering nie - wat toegewings gemaak  het.  Die toegewings wat die regering gemaak het was grootliks kosmeties en het verband gehou met die ontbanning van tradisionele wapens en die omheining van hostelle. Die uitsondering was die ANC se aandrang op die vrylating van al sy lede in die tronk, ongeag van die misdade wat hulle gepleeg het. De Klerk het aanstoot geneem en was bereid om hierteen vas te skop, maar is deur sy sekuriteitsraadgewers hiervan afgeraai.

Ná die oorgang het De Klerk voortgegaan om te werk vir die insluiting van ‘n  magsdelingsmeganisme in die finale grondwet - soos wat hy telkemale beloof het om te doen. Hy kon egter nie daarin slaag nie, hoofsaaklik omdat die IVP en DP geweier het om hom te steun. De Klerk het so sterk gevoel oor die ANC se weiering om redelike  magsdelingsvoorstelle te aanvaar dat dit die hoofrede was vir sy besluit om in 1996 te onttrek uit die regering van nasionale eenheid. 

Hy het egter nie die idee van ’n vetoreg vir die minderheid gesteun nie - nie in die regering van nasionale eenheid nie en ook nie in ’n daaropvolgende bedeling van magsdeling nie. Hy was van mening dat ’n ras-gebaseerde vetoreg by die eerste dooiepunt tot ’n grondwetlike krisis sou lei wat die hele grondwetlike skikking in gevaar sou stel. Hy was eerder ten gunste van ander meganismes insluitend die daarstelling van ’n staatsraad wat minderheidspartye sou insluit en wat langs die kabinet sou dien en alle aangeleenthede van gemeenskaplike belang sou oorweeg - maar sonder ‘n vetoreg.

Partye behaal selde al hul aanvanklike onderhandelingsdoelwitte. Die NP het nie, en so ook nie die ANC nie. Aanvanklik wou die ANC nasionalisering hê en ’n gesentraliseerde staat sonder provinsies of streke. Die party was nie entoesiasties oor grondwetlike beperkings op uitvoerende en wetgewende magte nie. Hierdie bedenkinge is goed uitgedruk deur Ngoako Ramathlodi, een van die ANC se hoofideoloë, in ’n artikel wat in September 2011 verskyn het. 

Hy het beweer dat die balans van magte ten tyde van die grondwetlike onderhandelings die ANC gedwing het om fatale toegewings te maak. Gedurende die onderhandelings het die ‘regime’ elemente van politieke mag aan die swart meerderheid afgestaan, maar wesenlike mag van die wetgewer en uitvoerende gesag weggeneem en in die regbank, Hoofstuk 9-instellings en die burgerlike samelewing gevestig.

So, Ramathlodi stem beslis nie saam met Giliomee en JM Coetzee dat “die party wat die politieke mag gehad het - die NP - weinig van sy doelstellings behaal het en dat die party sonder mag - die ANC - gekry het wat dit wou hê nie …”.

Ramathlodi het toegegee dat die nuwe grondwet in wese die mag van die meerderheid om te doen wat hy wil, beperk het. Hy het ook getuig van die regstelsel se doeltreffendheid deur te kla dat ‘wit ekonomiese belange’ voortdurend en op suksesvolle wyse regeringsbeleide in die howe uitgedaag het. Hy heg duidelik meer waarde aan die Grondwet as Giliomee, wat De Klerk kritiseer dat hy te veel vertroue geplaas het in die Grondwet se bepalings en in die onafhanklikheid van ons howe.

De Klerk het egter nie al sy eiers in een mandjie gepak nie, anders as wat Giliomee beweer. Op 20 Mei 1994 het hy aan ’n gehoor in Londen gesê dat alhoewel Suid-Afrika ’n geloofsprong gedoen het - het dit dit gedoen met “grondwetlike valskerms en regterlike veiligheidsmaatreëls”. Ander veiligheidsmaatreëls sluit in

  • “sterk en goedgevestigde staatsorgane, met inbegrip van professionele en burgerregte organisasies; ’n onafhanklike en uitgesproke media; en ’n groot en dinamiese privaatsektor;”
  • die internasionale gemeenskap - wat na sy mening sou help om te verseker dat alle partye die grondwetlike ooreenkomste sou nakom; en
  • “die simbiotiese verhouding wat bestaan tussen al ons gemeenskappe.” Die regering sou nie in staat wees om die redelike belange van wit mense te ondermyn sonder om nasionale eenheid te vernietig en die belange van alle Suid-Afrikaners in die gedrang te bring nie.  

Giliomee se bewering dat die NP se grootste probleem in die kabinet gelê het, is doodeenvoudig onwaar. Ek weet dit, want ek was die sekretaris van die kabinet. Ten spyte van moeilike besluite wat geneem moes word en ten spyte van ernstige kommer oor die toekoms, het die kabinet en die NP-koukus hul eenheid gehandhaaf en De Klerk regdeur die hele onstuimige tydperk gesteun.

Daar was natuurlik benoude besluite oor enige  toegewings wat die NP se kernposisies sou geraak het - soos wat ongetwyfeld terselfdertyd die geval in die ANC was. Dit is wat gebeur tydens moeilike onderhandelings. Daar was byna niemand wat heeltemal gelukkig was nie - maar ook niemand het bedank het nie. De Klerk het daarin geslaag om die steun van sy wit ondersteuningsbasis regdeur die proses te behou. Soos wat duidelik is uit die uitslag van die verkiesing in 1994 het hy ook die steun van ’n meerderheid van bruin en Indiese Suid-Afrikaners bekom, sowel as ’n geraamde 600 000 swart Suid-Afrikaners.

Miskien is Giliomee se hoofkritiek sy bewering dat De Klerk geen mandaat gehad het om ’n meerderheidsuitslag te onderhandel nie en dat hy nie die finale grondwetlike voorstelle aan die wit kieserskorps voorgelê het tydens ’n tweede referendum nie. De Klerk was van mening dat sy oorwinning met 69% in die referendum van 1992 hom ’n mandaat gegee het wat sterk genoeg was om ’n ooreenkoms oor die tussentydse grondwet te bereik. Die tussentydse grondwet het nog altyd die deur vir die onderhandeling van ‘n magsdelingsmeganisme in die finale grondwet oopgehou.

Teen Desember 1993 was daar egter geen praktiese moontlikheid om ‘n tweede referndum te hou nie. ’n Referendum op daardie stadium sou onaanvaarbaar wees vir al die partye en die internasionale gemeenskap. De Klerk sou heel waarskynlik  gewen het - maar met ’n kleiner meerderheid as wat hy in 1992 behaal het. As hy verloor het, sou hy moes bedank as president en ’n nuwe, uitsluitlik wit verkiesing uitroep in die aangesig van universele internasionale veroordeling en toenemende plaaslike verset. Dit is nie verbasend dat daar nie veel NP-ondersteuners was wat ’n tweede referendum geëis het nie en geen teenstand van hul verteenwoordigers in die Parlement toe hulle die tussentydse grondwet aanvaar het nie.

De Klerk se besluit is op 27 April 1994 geregverdig toe ’n oorgrote meerderheid van die wit kieserskorps vir die Nasionale Party gestem het. Hulle sou sekerlik dit nie gedoen het as hulle nie die grondwet wat die NP onderhandel het, in die breë goedgekeur het nie.

Desnieteenstaande was daar natuurlik mislukkings in die benadering van die NP se onderhandelings: 

  • Dit kon gebruik gemaak het van sterker onderhandelaars. 
  • Meer kon gedoen word om ’n ooreenkoms betreffende amnestie voor April 1994 te bereik - alhoewel die tussentydse grondwet ondubbelsinnig verklaar dat “amnestie toegestaan sal word ingevolge optrede, weglatings en oortredings wat verband hou met politieke doelwitte en wat deur die loop van konflikte van die verlede uitgevoer is.”  
  • Die NP kon ’n ferm ooreenkoms oor die aard en omvang van die waarheids- en versoeningsproses bereik het wat in 1996 deur die ANC van stapel gestuur is. 

Giliomee is ook reg om daarop te wys dat die ANC nie ter goede trou onderhandel het nie en toegewyd is tot die inwerkingstelling van sy ongrondwetlike Nasionale Demokratiese Revolusie. Gevolglik verkeer belangrike aspekte van ons grondwetlike ooreenkoms onder druk. Ons weet dit maar alte goed. Die FW de Klerk Stigting het ’n leidende rol gespeel ten einde die publiek te waarsku teen die gevare wat dit inhou en het daadwerklike stappe gedoen om die Grondwet te beskerm. 

Die werklike uitdaging is om die burgerlike samelewing, die media, sakeondernemings en openbare mening te mobiliseer om die Grondwet en die waardes en regte wat dit verskans, te handhaaf. Niemand het ooit gesê dat die bestuur van ons nuwe samelewing maklik sou wees nie - maar die handhawing van die Grondwet is baie makliker - en sal meer geneig wees om plaaslike en internasionale steun te geniet - as om die idee van ’n wit vetoreg  te probeer regverdig.

Niks hiervan doen afbreek aan die sentrale werklikheid dat - met uitsluiting van magsdeling (wat dit nie uitsluit nie) - die tussentydse grondwet feitlik al die beloftes wat De Klerk op 2 Februarie 1990 gemaak het, verwesenlik het nie.

De Klerk staan uit as een van die baie min leiers in die geskiedenis wat daarin geslaag het om die radikale transformasie van ’n samelewing suksesvol te bestuur. Anders as sy vriend, Mikhail Gorbachev, het hy nie beheer verloor van sy revolusie nie. 

Sedert 1994 het Suid-Afrika belangrike vordering gemaak. Ironies genoeg was die hoofbegunstigdes dikwels wit mense. Ons het 20 jaar van redelike vrede en ekonomiese groei beleef. Ons is weer ’n gerespekteerde lid van die internasionale gemeenskap. Ons ekonomie is drie keer groter as wat dit in 1994 was. Miljoene Suid-Afrikaners was in staat om hul lewens in relatiewe  vrede, welvaart en vryheid voort te sit - en sonder die vernedering van geïnstitusionaliseerde rassediskriminasie en sonder die klad om internasionale uitgeworpenes te wees.

Gedurende hierdie tydperk het prof Giliomee wonderlike boeke oor die geskiedenis geskryf, omring deur die vreedsame en ongeëwenaarde skoonheid van Stellenbosch. Hy was in staat om vriende op sonskyndae te ontmoet in die dorpie se oulike restaurante op die sypaadjies en, ongetwyfeld, om oor ’n glas cabernet sauvignon die ernstige foute te betreur wat De Klerk na sy mening gemaak het. Dit is tog immer die rol van diegene wat die geskiedenis skryf.  Diegene wat die geskiedenis geskep het en wat met enorme maatskaplike-, ekonomiese-, en politieke- vraagstukke geworstel het, het dikwels ander sieninge van die verlede.  

Ek kan Prof Giliomee egter verseker dat - soos ek die geskiedenis van daardie tydperk beleef het - sou daar vandag geen vreedsaamheid, geen vooruitgang, geen internasionale aanvaardig en geen vooruitsigte vir die toekoms gewees het indien De Klerk besluit het om “harde mag” te gebruik om ’n grondwetlike stelsel in Suid-Afrika af te dwing waarin 10% van die mense, op grond van hul ras, ’n vetoreg sou behou het oor die besluite van ’n demokraties verkose regering nie.

En De Klerk? Op die ouderdom van byna 78 sit hy sy werk voort om die grondwetlike bestel, wat hy meer as 20 jaar gelede help onderhandel het, te beskerm.

Repliek op Dave Steward

Deur Hermann Giliomee

Ek vind dit moeilik om Dave Steward se basiese argument te verstaan. Hy skryf geen ingeligte kenners – en hy noem Tony Leon, wat as afgevaardigde van die Demokratiese Party aan die onderhandelinge deelgeneem het – sal saamstem dat De Klerk die een of ander vorm van vetomag vir die wit minderheid onder die dekmantel van magsdeling moes of kon behou het.  Hy voeg by “veral gegewe die feit dat Leon geweier het om magsdeling gedurende die onderhandelings te steun.”

Maar waarom sou Leon saamstem? Hy en sy party het nooit, soos wat die NP op die vooraand van die Referendum van 1992 gedoen het, ‘n volblad advertensie geplaas wat uitbasuin: “As jy bang is vir meerderheidsregering stem ‘Ja’”. Hy het nie, soos wat De Klerk wel gedoen het, beloof dat indien die skikking te ver afwyk van die NP se voorstelle daar weer ‘n blanke referendum gehou sou word nie.

Wat die ANC reggekry het om te onderhandel, was ‘n stelsel wat nie wesenlik afwyk van gewone meerderheidsregering nie. In die laaste ure van onderhandelinge vir ‘n oorgangsgrondwet in November 1993 het die ANC De Klerk se voorstelle wat meerderheidsregering sou temper, verwerp. Die finale besluit was: “Die kabinet sal probeer om konsensus te bereik, maar indien dit misluk, sal die meerderheid besluit.”

Magsdeling is nie soos wat die ANC graag te kenne wil gee ‘n onding of oudmodies nie. Vernon Bogdanor, ‘n gesaghebbende van Oxford Universiteit, het geskryf: “Some kind of power-sharing has been a feature of governments in all societies that have successfully overcome their internal divisions… The essence of power-sharing is the departure from majority rule that enables all major groups to play their role in government; majority rule is bound to lead to alienation and instability…” (“Forms of Autonomy and the Protection of Minorities”, Daedelus, Spring 1997, p. 66.)

Ons het gedurende die laaste dekade al meer tekens hiervan in Suid-Afrika gesien. Dit was net ongelooflike kortsigtigheid aan die kant van kommentators gedurende Suid-Afrika se onderhandelinge om Pres. FW de Klerk se aandrang op magsdeling af te maak as ‘n vasklou aan die voorregte van die NP-bewind.

Watter opsies was daar vir die De Klerk-regering beskikbaar nadat dit vroeg in Februarie 1990 aangekondig het dat dit besluit het om ´n demokratiese grondwet te onderhandel? Indien die NP-regering op sy knieë was, sou ´n skikking wat hom tot magtelose minderheidsparty gereduseer het  verstaanbaar gewees het. Maar daar is geen aanduiding dat dit die geval was nie.

De Klerk het op 30 Maart 1990 voor die Kaapse Persklub verklaar dat die regering nie optree uit ‘n posisie van swakheid nie. “Ons het nie gewag totdat die oorwig van mag teen ons draai voordat ons besluit het op die koers van vreedsame skikking deur onderhandelinge nie.”  Twee jaar later skryf Chester Crocker, die VSA-regering se Assistant-Sekretaris van Buitelandse Sake gedurende die 1980’s, dat hoewel die NP regering nie sy legitimiteit sou kon herwin nie, “the resistance [movements] had no hope of forcing the government to capitulate (High Noon in Southern Africa, p. 496).   

Donald Horowitz, een van die voorste kenners in die wêreld oor die skryf van ‘n grondwet in diep-verdeelde samelewings, het in die vroeë 1990’s ‘n boek gepubliseer, getitel A Democratic South Africa?. Hierin skets hy die groot uitdaging vir Suid-Afrika: Hoe moet dit meerderheidsoorheersing en minderheid-uitsluiting verhoed? Hy het besluit: “If minority rule means Black majority rule and White minority exclusion, something has gone wrong. It need not and should not mean that; and … if it does mean that, Whites will have no reason to choose an inclusive democracy for South Africa.” (A Democratic South Africa?, p. 94)

Twintig jaar later was Horowitz, wat toe pas ‘n boek oor die onderhandelings vir ‘n grondwet in Indonesië voltooi het, baie krities oor die NP se vertoning in die onderhandelinge. In kommentaar op my boek skryf hy:

“De Klerk’s failings were astounding.  Did he think he was going to negotiate the purchase of a used car?  Not to know the goals, the endgame, and not to have a list of what was and was not acceptable – this was a prescription for failure. On your account, he did not even have a conception of what he really wanted.  These were negotiating failures much worse than in Northern Ireland, Bosnia, etc., and far worse than Indonesia.”

Steward gaan verkeerdelik van die standpunt uit dat ek die een of ander vorm van vetomag vir die wit minderheid onder die dekmantel van magsdeling voorstel. Daar is tog talle ander moontlikhede: Daar is byvoorbeeld kiesstelsels wat ten doel het om gematigheid en veelrassige steun te beloon (iets wat Horowitz bepleit); federasie (waarna die NP nooit ernstig gekyk het nie) en geweegde meerderhede. In die geval van die skikking in Noord-Ierland is bepaal dat belangrike besluite net geneem kan word indien hulle voldoende steun in albei gemeenskappe geniet. Niemand verdoem laasgenoemde skikking as verwerplik nie.

In September 1991 het ‘n NP federale kongres verreikende voorstelle vir magsdeling aanvaar. Daar was selfs ’n Tweede Huis waarvolgens partye wat ‘n sekere minimum steun in ‘n verkiesing gekry het almal dieselfde aantal setels sou kry.   

Steward argumenteer dat geen noemenswaardige land sou aanvaar het “dat die wit kieserskorps ’n vetoreg oor toekomstige grondwetlike ontwikkeling sou hê nie – net so min as wat hulle bekommerd was oor die menings van die wit kieserskorps in Rhodesië.”

Maar Suid-Afrika was tog sekerlik nie Rhodesië nie. Regerings kapituleer wanneer hul sekuriteitsmagte die stryd verloor het of gedemoraliseer geraak het, of wanneer ‘n sterker buurman die krane toedraai (soos wat John Vorster met Ian Smith se Rhodesië gedoen het). In Suid-Afrika se geval was die sekuriteitsmagte lojaal en paraat tot die einde.

Natuurlik wou die groot lande van die wêreld graag ‘n skikking hê in Suid-Afrika, maar ek twyfel of daar by alle lande wat saak gemaak het die eenparige wil was om die De Klerk-regering te wurg todat dit op die ANC se voorwaardes geskik het. My vermoede is dat hulle net so verbaas was as wat die De Klerk-regering se eie regsadviseurs was.  Jan Heunis, een van hulle, skryf dat hy “geskok” was toe hy hoor dat die NP-onderhandelaars magsdeling aanvaar het, nie omdat daaroor ooreengekom is nie, maar wel omdat dat die NP geen mandaat van sy kiesers daarvoor gehad het nie.  (Heunis, Binnekring, p. 150).

Daar is konsensus onder skrywers dat die keerpunt in die onderhandelinge die Akte van Verstandhouding was wat die NP-regering en die ANC op 26 September 1992 gesluit het. In die voorafgaande drie maande het die ANC hom van die onderhandelinge onttrek en ‘n veldtog van massa-betogings, gepaardgaande met geweld en ontwrigting, van stapel gestuur. By tye het dit gelyk of die ANC daarna mik om die regering met hierdie aksies tot ‘n val te bring.

Daar was geen aanduiding dat die regering aan die wankel was nie.  Hernus Kriel, Minister van Polisie, het in hierdie tyd aan die joernalis Padraig O’Malley gesê die regering is nie geraak deur die massa-aksie nie en was nie van plan om die mag oor te dra nie.  Hy het gevoel dat die Akte van Verstandhouding ‘n groot flater was. Kobie Cotsee, Minister van Justisie, het op die dag aan Rina Venter, Minister van Gesondheid, gesê: “Vandag het ons die land verloor.”

Steward skryf dat dit eintlik die ANC was wat die grootste toegewings moes maak. Ek weet nie van een gerekende skrywer wat so ‘n siening ondersteun nie. Die algemene opvatting is dat die ANC vir die eerste keer die oorhand gekry het en dat die NP voortaan tweede viool moes speel. 

In my boek argumenteer ek dat daar in werklikheid twee geleenthede was waarby De Klerk ingrypend sy posisie verander het. Die eerste keer was in Desember 1991 toe hy toegegee het aan die eis vir ‘n verkose grondwetgewende vergadering. Dit was iets wat De Klerk in die openbaar verwerp het en waarop die ANC aangedring het.

De Klerk het waarskynlik hierdie stap gedoen omdat hy geglo het dat die NP, in samewerking met Inkatha, sterk beskerming vir minderhede en ‘n vorm van magsdeling in ‘n tussentydse grondwet beding sou kry. Die verwagting was dat die ANC sou sukkel om die voorgeskrewe verhoogde meerderheid te kry om ‘n grondwet te verander wat deur ‘n groot aantal partye onderhandel is.

Die tweede groot toegewing was in die Akte van Verstandhouding. Die ANC het hier daarin geslaag om die informele bondgenootskap tussen die regering en Inkatha te vernietig. Die ANC se eis dat sekere hostelle met groot getalle Inkatha-volgelinge omhein moes word, was grootliks hierop gemik en die ANC se skuif was hoogs suksesvol.  Daarna was die NP by die onderhandelingstafel geïsoleer. In my boek haal ek Mangosuthu Buthelezi aan wat onlangs aan my gesê dat Kriel heeltemal korrek was toe hy na die Akte van Verstandhouding verklaar dat dit die einde beteken van die NP-Inkatha bondgenootskap.

Die ander wins vir die ANC was dat die NP-regering toegegee het aan sy onredelike eis dat ANC-gevangenes amnestie moes kry selfs al het hulle nie aan die sogenaamde Norgaard-beginsels voldoen nie.

‘n Ander terugslag vir De Klerk was dat hy nie Mandela kon oorreed dat die ANC sy praktyk staak om deur middel van “rolling mass action” toegewings by die onderhandelingstafel te probeer afdwing nie.

Tot Mei 1992 was die plan dat Kodesa 2 ‘n interim grondwet sou skryf. ‘n Verkose grondwetgewende vergadering sou dan hierdie grondwet kon wysig met voorgeskrewe verhoogde meerderheid. Sekere verhoogde meerderhede sou geld as wysigings aangebring word.

Na die Akte van Verstandhouding was hierdie modus vir grondwet skryf van die baan. Die ANC sou nou ‘n skoon lei hê wanneer die afgevaardigdes byeenkom om ‘n interim grondwet te skryf. Al wat hy moes doen, was om die bepaalde verhoogde meerderheid te kry en te sorg dat dit binne vae ooreengekome grondwetlike beginsels was.

Dit was vir ingeligte waarnemers duidelik dat Nelson Mandela persoonlik en die ANC as beweging die oorhand gekry het. Al “wins” vir die NP was dat die ANC na die onderhandelingtafel teruggekeer het. Maar soos Joe Slovo tereg aan Patti Waldmeir gesê het: “They caved in on everything” (Waldmeir, Anatomy of a Miracle, p. 216).

Die ANC was in elk geval nie van plan om hom veel te steur aan die tussentydse grondwet wat in November 1993 gefinaliseer is nie, Thabo Mbeki, Adjunk-President het ‘n jaar na die oorgang na ‘n nuwe regime gesê dat onderhandelings vir  hierdie grondwet ‘was contrived elements of a transition’ necessary to end white domination. At no time did the ANC consider them “as elements of permanence.”(SAPA PR Wire Service, Speech of Thabo Mbeki at ANC National Constitutional Conference, 31 March to 2 April 1995).

Toe die finale grondwet in 1995-‘96 onderhandel is, het die NP geen mag meer gehad nie.  In reaksie op ‘n onlangse stelling van De Klerk dat die ANC nie die NP geraadpleeg het oor sy radikale planne vir transformasie nie, het Cyril Ramaphosa, die ANC se hoofonderhandelaar, geantwoord:  “De Klerk seems to forget that the constitution was drawn up by the Constitutional Assembly, a democratically-elected body that represented the collective will of the South African people.” (Politicsweb, 24 Februarie 2014).

Steward antwoord nie op my belangrikste punt van kritiek nie, naamlik dat De Klerk nie ‘n mandaat van sy kiesers gekry het vir die grondwet wat onderhandel is nie. De Klerk se belofte aan sy kiesers was dat hy meerderheidsregering sou verhoed, en dit is meerderheidsregering wat Suid-Afrika gekry het.  Van die wigte en teenwigte waarvan De Klerk dikwels gepraat het, was daar nie juis sprake nie.

Daar is wel ‘n mate van beskerming in die feit dat Suid-Afrika ‘n stelsel gekry het wat die grondwet eerder as die Parlement soewerein maak en die Konstitusionele Hof magtig om wette ongrondwetlik te verklaar.  Maar ook hierdie belangrike kwessie is swak onderhandel. Die Regterlike Dienskommissie (RDK), wat aanbevelings vir die regbank maak, stem deesdae klokslag drie teen een vir enige regter wat nie die ANC-leierskap se goedkeuring wegdra nie. Die RDK word heeltemal oorheers deur mense wat benoem word deur die wetgewende en uitvoerende mag waar die ANC die meerderheid het.

Die grondwet het dit moontlik gemaak dat private ondernemings nie gebuk gaan onder oormatige belastings en regeringsvoorskrifte nie. Veral maatskappye wat ook buite Suid-Afrika belange het, floreer. Maar dit wil lyk of die ANC in ‘n al meer populistiese rigting beweeg. Die besluit om grondeise weer oop te stel sonder dat daar hoegenaamd die fondse beskikbaar is om al die eise uit te betaal kan lei tot ‘n vorm van nasionalisasie van grond en ondermyning van private besit. Die Instituut van Rasseverhoudinge het onlangs ‘n ernstige waarskuwing in die verband gerig.

Laastens is daar die kwessie van die medium van onderwys en taalregte. Deur dwang te gebruik dat Afrikaanse skole en universiteite ten einde sogenaamde “toegang” te verleen ‘n Engels stroom moet invoer, het die regering die posisie van Afrikaans dramaties verswak.

Arnold Toynbee het ‘n sekere wetmatigheid in die opkoms en ondergang van beskawings bespeur. Die minderhede en die Afrikaners in die besonder is gekonfronteer met formidabele uitdagings. Nietemin kan geargumenteer word dat die sosiale kapitaal wat beskikaar is moontlikhede van ‘n kreatiewe respons bied. Maklik sal dit nie gaan nie, maar ons geskiedenis is vol voorbeelde van gemeenskappe wat ten spyte van groot struikelblokke die bestaande geleenthede gegryp en ook hul kultuurgoedere uitgebou het. Vat maar die Indiër-gemeenskap van Suid-Afrika.