Sport in die Boere-krygsgevangekampe tydens die Anglo-Boereoorlog

Floris van der Merwe

Afrikaans

FJG Publikasies

2013

Hoewel die Anglo-Boereoorlog 'n deeglik nagevorsde onderwerp is, het nie een van die vorige ondersoeke slegs oor die kulturele aspekte van sport en spele aan Boerekant gehandel nie. Die grootste probleem waarmee die krygsgevangene te kampe het, is verveeldheid.  Hierdie werk poog om aan te toon watter behoefte aan fisieke aktiwiteit krygsgevangenes in daardie omstandighede gehad het; die effek van die geografiese omgewing op hul fisieke aktiwiteite; die invloed van nie-Boere op die sport en spele in die kampe; op watter maniere die militêre owerhede sport en spele in die kampe beïnvloed het; aan watter sportsoorte en spele deelgeneem is; van watter belang hierdie aktiwiteite vir die gevangenes was, en of die oorlog 'n instrument was vir kulturele en sosiale verandering en indien wel, in watter mate. Dit toon dat 'n krygsgevangene aan sport en spele moes deelneem, asook handwerk en dies meer moes doen om geestelik gesond te bly. Die geografiese omgewings van die kampe in St. Helena, Ceylon, Indië en die Bermuda-eilande het wel die kwaliteit en die kwantiteit van die sportsoorte en spele waaraan deelgeneem is, beïnvloed. Die nie-Boere, veral die Hollanders, Duitsers, Oostenrykers (om slegs 'n paar te noem) het sonder twyfel die gebied van sport en spele verryk. Die gewildste sportsoorte was rugby, krieket, sokker, tennis en atletiek, terwyl die gewildste spele kaartspele, bordspele, ringgooi en biljart was. Hierdie aktiwiteite het grootliks bygedra tot die gevangenes se geestesgesondheid. Vir baie Boere vanaf die buitewyke van die twee Republieke was die sportlewe in die kamp 'n instrument vir kulturele en sosiale verandering, aangesien hulle nie slegs nuwe vaardighede in verband met sport en spele aangeleer het nie, maar ook sosiale houdings; met verskillende tipes mense gemeng het en dus groepsamehorigheid ontwikkel het. Daar kan met "n redelike mate van sekerheid gesê word dat die plattelandse Boere byvoorbeeld rugby in die kampe geleer het. Na die oorlog het hulle dié "hulle eie"gemaak.

Merwe