Woorde kan nie ervaring in Amsterdam beskryf

Door Siska Martin, Journalist in het Huis

As mense hoor iemand gaan na Amsterdam in Nederland, is daar uiteenlopende reaksies. Gaan vaar op die gragte, besoek die Rijksmuseum, gaan Keukenhof toe, besoek die Anne Frank-museum, eet kaas en speculaas en maak ‘n draai in ‘n coffeeshop vir ‘n dagga-dampie, hoor jy dikwels.

En hoor hulle boonop die mens gaan in Januarie en Februarie… Oe, jy gaan lekker koud kry, onthou jou longjohns, vat ‘n sambreel saam. So gee almal raad op grond van hul eie ervaring of vooropgestelde idees.

Ja, dit is alles goeie raad – dinge wat ‘n mens moet doen as jy so ver gekom het en byna twee maande hier gaan deurbring. Op hierdie vroeë stadium van my besoek het ek al ‘n paar van die rate gevolg en niks daarvan was oordrewe nie.

Die ding wat ek egter die meeste geniet wanneer ek in Amsterdam se ou middestad rondbeweeg, is die energieke en lewendige atmosfeer in die strate. Die meeste mense stap, ry fiets of gebruik openbare Vervoer.

Oral waar jy gaan, is mense op straat – selfs op naweke is daar heeltyd mense wat stap, of op hul fietse ry. Die wat nie op straat is nie, sit in die talle koffiewinkels (regte koffiewinkels!) en kuier. Daar is selfs hier en daar iemand wat lyn natmaak in een van die gragte.

Ja, dit ís koud en nat en hier is baie meer grou, bewolkte dae as wat hier helder sonskyndae is. Maar as die son die dag skyn, waardeer almal dit en gebruik die geleentheid om lang ente in die stad en in van die vele mooi parke, soos die Westerpark met sy vele kersiebome, te gaan stap.

Amsterdam is ‘n boomryke stad met sowat 1 miljoen bome. Hoewel die bome nou kaalgestroop is van blare en bloeisels, is hulle steeds groen van die mos wat in dié stad se klam klimaat op die boomstamme groei.

‘n Magdom kulture ontmoet in dié besonderse stad. Dit sien jy ook aan die verskeidenheid kos wat hier te vinde is. Thaise, Italiaanse, Portugese en tradisionele Nederlandse kos kan in dieselfde straat binne 100 m gekry word. Ook die kroeë weerspieël hierdie diversiteit met onder meer Ierse, Engelse en Australiese watergate om uit te kies.

Om te kan woon in die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht is ‘n besondere voorreg wat nie almal beskore is nie, want verblyf in die geskiedkundige ou middestad is gesog en duur. Hier is jy naby aan die meeste besienswaardighede wat die Nederlandse hoofstad die besoeker bied.

Die Zuid-Afrikahuis is in om en by 1620 deur die Hasselaer-familie van Haarlem gebou. Die mooi ou gebou is reeds sedert 1970 ‘n nasionale besienswaardigheid.

Boonop is die Grachtengordel, waarvan die Keizersgracht deel is, sedert 2010 ‘n wêrelderfenisgebied. Hier sien ‘n mens dus pragtige, goed behoude geboue wat uit die 17de eeu dateer. Die gordel bestaan uit vier gragte wat eindelik almal uitloop in die Amstelrivier.

Die sowat 2 500 huisbote wat vasgemeer is op die gragte in die middestad, dra by tot die besonderse karakter van Amsterdam. Van die huisbote het ‘tuine’ met tuinstelle op hul dak, ander het ‘n stoep en enkeles het selfs ‘n ingang bestaande uit ‘n hek en rankplante op die sypaadjie gebou. Ek stel my voor hoe die bootbewoners in die somer buite kuier en elke beskikbare sonstraal indrink.

Lang stories kan geskryf word oor die deugde van die vrou wie se naam Amsterdam is, maar niks kom by die ervaar van hierdie Europese stad nie. Vir elkeen sal Amsterdam ‘n ander ervaring wees en jy kan self besluit of jy jouself hier wil verloor of vind…