Actueel

Die troebel tyd van Covid-19

10 april 2020
Auteur: Ena Jansen
Foto: Nicol Stassen

Delen:

‘Dit is soos ’n zombiewêreld daar buite. Dit is morsdood. Daar is níks, níks, níks daar nie. Die enigste mense wat jy sien rondloop is hawelose mense. Hulle loop doelloos rond; hulle is in ’n dwaal. Dis baie hartseer. Nogal vreemd. Soos ’n post-apokaliptiese wêreld,’ sê Robert Weinek, direkteur van AfrikaBurn in ’n onderhoud met Murray La Vita van Netwerk24.

’n Week voor President Cyril Ramaphosa se aankondiging dat Suid-Afrika drie weke lank in ’n totale grendeltoestand, ‘lockdown’, sou gaan vanaf Vrydag 27 Maart, het Weinek en sy groep al besluit dat AfrikaBurn nie dié jaar, soos al sedert 2007, in die Tankwa-Karoo sal plaasvind nie. Hulle het egter onmiddellik besluit om hulle organisasie se praktiese kennis en groot voorraad aan toilette en waterhouers beskikbaar te stel aan die haweloses van Kaapstad. Dié goed, wat al byna oppad was na die semi-woestyngebied 300 kilometer noord van Kaapstad waar duisende AfrikaBurn-gangers partytjie sou hou tussen 27 April en 3 Mei, is nou ontplooi in Observatory om die menswaardigheid van haweloses te help verseker. 

In Kaapstad mag ons, net soos orals in die land, slegs ons huise verlaat om kos en medisyne te koop ás dit dringend noodsaaklik is. Byna niemand doen dit in die stad se gegoede woonbuurte nie. Tot vlak voor ‘lockdown’ is dan ook flink ge-hamster deur dié met geld en yskaste. Drank en sigarette mag drie weke lank glad nie verkoop word nie. Alle parke is gesluit. Jy mag nie op straat gaan stap of draf nie; swem, bergklim en kuier in iemand anders se huis is verbode. My sussie en ek het ons 90-jarige ma laas op 24 Maart besoek. ’n Film gemaak deur ‘n ‘drone’ toon absoluut verlate paaie, strande en wandelpaaie. Elke dag lyk Tafelberg van my voordeur af blinker en groter. Daar’s byna geen besoedeling meer nie – Stellenbosch se berge staan helder afgeteken teen die horison. Koeberg is pal noord aan die anderkant van Tafelbaai. Elke laatmiddag kry ek op my balkonfietsie koers soontoe. Vroegoggend klim ek die woonstelblok se ses stelle trappe sewe keer op en af. 

As ek uiteindelik ná tien dae besluit om dit verby die hek van my woonstelblok te waag wanneer al my vars goed en melk op is, wil ek graag stap na die Checkers-winkel laer af in Kloofstraat. ’n Buurvrou whatsapp my egter dat ek waarskynlik langs die pad ‘accost’ sal word deur bedelaars. Alhoewel honderde daklose mense na tentkampe onder ’n brug naby die hawe en na Strandfontein se parkeerterrein langs Valsbaai geneem is, swerf enkele mense tog nog rond. Veral naby die paar oop winkels. Vir so ’n ontmoeting sien ek nie kans nie. Dit voel veiliger om in my kar te ry. Die battery kan dan sommer ook ’n bietjie laai.

Op Sondagoggend loop ek haastig in die byna verlate Checkers met my boodskappe-lysie in my latex-gehandskoende hand rond, masker op. Ek is verbaas oor hoe goed voorsien die winkel is. Ook oor die bonte verskeidenheid maskers wat die mense dra. ’n Tweeliter plastiekbottel met ’n gat in gesny om plek te maak vir die man se kop lyk uiters effektief. Deur die hek van die bewaakte parkeerterrein gee ek ’n brood, koejawels en geld aan vir die paar brandmaer mense wat wanhopig wag op aalmoese. Die klandisie van mense wat normaalweg ‘n kontantgeldjie verdien deur parkeerplekke aan te wys, karre op te pas of met bedelplakkate by stopstrate te staan, bly tuis. Ons ry nie meer elke dag rond nie, ons parkeer nie. Ons sit hoog en droog met vol koskaste agter ons mure.

Die WhatsApp-groepe waarvan ek lid is (die Wednesday Walkers en Rainmakers met wie ek Tafelberg van alle kante beklim, die Tafelbaai-leeskring en ’n vriendinne-groep) stuur daagliks opkikkers rond: dit wissel van ontroerende beelde tot die belaglikste grappe wat die spanning vir ’n oomblik verlig. Soos die prentjie van ’n walrus wat lê en wonder of hy ná lockdown eerste by Weightwatchers of by die AA moet aansluit. Wat ’n luukse om hieroor te kán lag. Of oor een met die teks ‘Does anyone know which page of the Bible explains how to turn water into wine? Asking for a friend.’ Die lewe van die bevoorregtes wentel om resepte, films op Netflix, aanlynklasse vir Tai Chi, pilates en yoga, skakels na die wêreld se beste museums, boeke en opera’s wat aanlyn bekyk kan word. Dít terwyl die plakkerskampe rondom Kaapstad anderkant die lughawe – waarvandaan geen enkele vliegtuig meer vertrek nie – steeds meer ly. Daar woon die mense wat afhanklik is van dag- of weeklone wat nou wegval. Die grendeltoestand veroorsaak armoede en honger vir baie, insluitend die land se miljoen huiswerkers en hulle afhanklikes.

Solidariteitsbewegings skiet soos paddastoele uit die grond. Sedert die struggle, dus ná 1990, was nog nooit soveel witmense betrokke by aksie-werk nie. Bewonderenswaardig is byvoorbeeld dié wat saamstaan onder die naam ‘Cape Town Together Community Action Network’ (CAN). Vrywilligers doen ongelooflike werk in plekke soos Muizenberg en om hulp uit meer gegoede wyke te koppel aan townships, byvoorbeeld Seepunt met Gugulethu. Meer as sewentig CAN-groepe is al gestig. Kospakkette, water, was- en toiletgeriewe word op groot skaal georganiseer, datavoorsiening en mediese hulp word verleen. Stapels gesigsmaskers word deur mense tuis gemaak en wyd versprei om ten minste te probéér sorg dat almal maskers het. 

Eergister het ek ’n stuk oor Covid-19 vir LitNet geskryf met verwysing na Soos familie (2015) en Bijna familie (2016) se hoofstuk oor die rol van huiswerkers in ‘troubled times’. Dis hoe ek dit in Like Family (2019) noem. As tussengangers was huiswerkers dekades lank die enigste skakels tussen bevoorregte wit mense en die townships, die ‘go-betweens’. JM Coetzee se karakter Mrs Curren dink byvoorbeeld in Age of Iron (1990): ‘What I know about events in Guguletu depends solely on what Florence tells me and on what I can learn by standing on the balcony and peering northeast.’

Nou is alles anders. Die eeue-oue verstrengelde Suid-Afrikaanse leefwyse het plotseling tot ’n stilstand gekom. Huiswerkers mag nie meer kom werk nie; hulle was trouens al voor ‘lockdown’ dikwels nie meer welkom nie – in oorvol busse en treine was hulle immers uiters blootgestel aan besmetting met die virus. Al twee weke lank vleg geen minibus taxis meer deur Kaapstad se meer gegoede woonwyke soggens vroeg nie, geen huiswerkers betree meer die private ruimtes van wit huishoudings nie. In die townships gaan dit volgens berigte van hulpverleners, die polisie en selfs die president beroerd. Mense kan hulle daar onmoontlik hou aan die voorskrifte om tuis te bly, om anderhalwe meter afstand te hou van ander as hulle op party plekke selfs vir toilette in die ry moet staan nie. Uitgebreide gesinne woon saamgehok in klein huisies; hulle het nie naastenby genoeg geld om vir dae lank voorrade te koop nie. PLAAS, die ‘Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies’, waarsku dat die strukturele armoede en ongelykheid tussen ryk en arm vinnig vererger.  In ‘Food in the time of the corinavirus: Why we should be very, very afraid’ waarsku PLAAS dat ’n massa mense honger is en steeds meer hulpbehoewend word. Anargie dreig as voedingskema’s nie op groot skaal op gang kom en volgehou word nie. Huislike geweld sal toeneem, soos wat trouens ook in byvoorbeeld Frankryk gebeur.

In my stuk vir LitNet skryf ek: ‘Alle werkgewers van ’n vrou wat twee weke gelede nog as ‘soos familie’ beskryf is, sal weet dat sy nou meer as ooit hulle solidariteit nodig het. Álmal ervaar verlies en staar ’n onsekere toekoms in die gesig, maar hulp aan die een vrou wat jy van naby ken, kan die een belangrike stap van die meer bevoorregtes wees om te probeer verseker dat die virus die gaping en ongelykhede nie vergroot wat Suid-Afrika nog steeds domineer ’n kwarteeu ná die sogenaamde beëindiging van apartheid nie.’

Saans lees ek teen slaaptyd verder in Howard Phillips se fassinerende versameling herinnerings aan die rampsalige griep van 1918,  In a Time of Plague. Memories of the ‘Spanish’ Flu Epidemic of 1918 in South Africa (2018). Meer as 300 000 Suid-Afrikaners is toe binne enkele weke dood, veral jong mense tussen 18 en 40. Die griep het in die Kaap begin waar soldate wat teruggekeer het van die Eerste Wêreldoorlog aan wal gekom het. Ek lees die verbatim-onderhoud uit 1978 met Margaret Lister (gebore 1886) wat destyds in St James gewoon en self siek geword het. Sy vertel van ’n visserman uit Kalkbaai en van boere uit Ceres wat almal in die helende krag van brandewyn geglo het, veral boegoebrandewyn. 

Tans is Suid-Afrika se Covid-19 ‘rekord’ nog besonder goed; 1 749 bevestigde siekes met 13 sterfgevalle op ’n bevolking van 56,7 miljoen. In Nederland is daar reeds 2 101 sterfgevalle. (Statistiek op 8 April 2020) Daar is ‘n onbevestigde vermoede dat die verpligte BCG-inspuitings teen TB wat alle Suid-Afrikaners by geboorte kry miskien sorg vir ‘n groter immuniteit teen Covid-19 as in Europese lande en Amerika waar die inspuiting nie verplig is nie. Dit is die afgelope paar dae hoopvolle nuus wat rasendsnel oor sosiale media versprei. Ondertussen is die Kaap se strate tjoepstil, die lugruim leeg en dieselfde skip lê al dae lank alleen in Tafelbaai.

Meer nieuws

2 juli 2020, Actueel
Wij zijn gesloten i.v.m. de zomersluiting.
30 juni 2020, Bibliotheek
Zomersluiting bibliotheek
Beste bibliotheekleden en Vrienden, Vanaf volgende week zijn wij een maand gesloten i.v.m. de zomersluiting. In deze periode stappen we over naar een nieuw bibliotheek systeem.
25 juni 2020, Actueel
Scriptieprijs shortlist!
De scriptieprijsjury heeft afgelopen jaar interessante scripties mogen ontvangen en is onder de indruk van de kwaliteit van de inzendingen.

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons