Actueel

Januarie, Februarie, Korona, Kersfees…

5 oktober 2020
Auteur: Siska Martin
Foto: Vroeg in die inperking in Suid-Afrika was die lug bo Bloemfontein skoner as gebruiklik.

Delen:

Donderdag 11 September 2020 was dit die 19de herdenking van 9/11, die dag waarop ‘n terreuraanval die World Trade Center in New York in puin gelê het. Ek kan onthou presies waar ek in ons kantoor gestaan het toe die nuus oor die aanval op televisie gebreek het.

In 2020 is 11 September midde-in die wêreldwye Covid-19-pandemie. Dié keer gaan dit oor ‘n vyand wat ons nie kan sien of hoor nie, een wat ons nie met ‘n gewelddadige teenaanval kan verwoes nie. Die koronavirus het mense kom aanraak en die wêreld verander – die uitwerking op ekonomieë is verwoestend, arm mense word net armer en kry net swaarder, werkloosheid word al meer, korrupsie neem amper net so vinnig toe soos Covid-19-gevalle. In Suid-Afrika is dit in elk geval so. 

Sondag in die kerk sê die prediker tong in die kies Kersfees is amper hier, want sien, só verloop 2020 in Suid-Afrika – Januarie, Februarie, Korona, Kersfees .… Maar in die tyd van Covid-19 – van Maart tot nou – gaan die lewe voort, teen ‘n ander pas en dikwels op ‘n ondenkbare manier. Kinders word gebore, vakansiedae en verjaardae word gevier, eksamens word geskryf, werke word verloor, mense trou, en mense sterf (nie noodwendig weens Covid-19 nie) .

Hibernasie

In die eerste ses weke van die inperking (van 26 Maart af), toe almal wat nie noodsaaklike dienste gelewer het nie tuis moes bly, het die land in ‘n tipe hibernasie gegaan. Minder is gehoor oor die gewone (geldige!) klagtes oor misdaad, almal het brandstof gespaar en minder geld uitgegee. Die wolk van besoedeling oor die middestad van Bloemfontein het opgeklaar. Mettertyd, egter, het ons weer al meer van die gewone korrupsie, misdaad, vrot dienslewering en veral die toenemende armoede gehoor. Derduisende mense het hul enigste inkomste verloor. Verskeie ondernemings het nie net afgeskaal nie, maar baie moes ook hul deure sluit.

Dit gaan klaarblyklik ook nie gou beter gaan nie. Volgens Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, kan Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidsyfer teen Maart 2021 tot so hoog as 53,2% styg, teenoor 38% in Maart vanjaar. 

G’n vleisfees nie …

Kerke en ander organisasies wat hul jaarlikse basaar of gemeentefees – gewoonlik hul grootste geldinsameling vir die jaar – nie kon hou nie, reik steeds uit om mense in hul omgewing te help. Die predikant van ‘n kerk in ‘n Vrystaatse dorp sê: “Ons is bankrot!” Dié gemeente hou een keer per jaar, op Menseregtedag op 21 Maart,‘n groot vleisfees wat hul grootste geldinsameling vir die jaar is.  

Om ‘n idee te gee van hoe groot dié fees is, word die vleis van 32 beeste, 200 skape, 20 varke en 350 hoenders vir vanjaar se geleentheid verwerk. Die meeste van dié vleis wag in die kerk se vrieskaste tot die fees wat nou vir Erfenisdag op 24 September beplan word.

Moeder Teresa

Synde ‘n aartsoptimis, kan ek nie help om ook die positiewe raak te sien nie. As jy in die oggend gaan stap, is dit asof mense mekaar meer raaksien, bewus is van mekaar, vriendeliker is met mekaar. Dit is uitdagend om altyd mense agter hul “katoengordyn” (masker) te herken, maar die vreugde wanneer hulle mekaar herken, is opreg.

Skole, self onder druk omdat ouers wat geen of verminderde inkomste verdien nie skoolgeld kan betaal nie,  samel kos in  vir gesinne wat nie kan kos koop nie. Gewone mense, nie werknemers of lede van welsynsorganisasies nie, samel in en deel uit – elkeen op sy of haar manier en in die omgewing waar hy of sy beweeg. Bewustelik, of onbewustelik, leef hulle uit wat Moeder Teresa gesê het: “As jy nie vir 100 mense kos kan gee nie, gee dan vir een.”

In ‘n plattelandse dorp sowat 60 km van Bloemfontein vertel die hoof van die plaaslike kinderhuis hoe in hul behoeftes voorsien is. Tot so ‘n mate dat hulle kospakkies kan verskaf aan die ouers van die kinders in hul sorg; dat hulle uit hul oorvloed ook kan gee.

Covid-19 het baie, miljoene, mense negatief kom beïnvloed, maar dit het ook kom wys dat meer mense as wat ons dink inherent goed is en omgee vir die volgende mens.

Ons Suid-Afrikaners het báie redes om te kla en om moedeloos te raak. Maar ons kan nie toelaat dat dit ons blind maak vir die goeie wat gebeur nie.

Siska Martin is ‘n joernalis van Volksblad in Bloemfontein

Meer nieuws

23 februari 2026, Actueel
Enquête VivA
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) loods tans, in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), ‘n nasionale navorsingsprojek om die digitale lewenskragtigheid van Afrikaans te meet. Die projek is gebaseer op die internasionaal erkende Digital Language Vitality Scale (DLV-skaal). Die doel van hierdie ondersoek is om beter te verstaan hoe Afrikaans in digitale […]
29 januari 2026, Actueel
Scriptieprijs 2026
Heb jij een masterscriptie geschreven die licht werpt op de relatie tussen Nederland (en/of Europa) en Zuidelijk Afrika? Dan nodigt het Zuid-Afrikahuis je van harte uit om mee te dingen naar de Zuid-Afrikahuis Scriptieprijs 2026. Het Zuid-Afrikahuis reikt deze tweejaarlijkse prijs uit aan een universitaire of HBO-masterscriptie waarin de relatie tussen Nederland (en/of Europa) en […]
15 januari 2026, Actueel
Boekententoonstelling Reizen – door de bladzijden van Zuid-Afrika
De tentoonstelling is te zien van 13 januari tot 9 april. Wij zijn open op maandag, dinsdag en donderdag tussen 10:00-16:00. Het Zuid-Afrikahuis presenteert een bijzondere boekententoonstelling rond het thema reizen naar Zuid(elijk)-Afrika. De tentoonstelling verkent drie vormen van reizen die door de eeuwen heen zijn opgeschreven en weergegeven in boeken, met kaarten en illustraties: […]

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons