Actueel

Kom Flikker & Flash in die strate van Stellenbosch

30 maart 2021
Auteur: Persbericht
Foto: Woordfees

Delen:

By die eerste Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek (6 – 11 April) kry 70 topkunstenaars uit ’n verskeidenheid dissiplines die geleentheid om hul vaardighede, idees en konsepte te verfyn onder leiding van agt vooraanstaande fasiliteerders: die teatermakers Andrew Buckland, Gcina Mhlophe, Mmatumisang Motsisi, Sylvaine Strike en Jefferson Tshabalala, die danser-choreograwe Gregory Maqoma en Alfred Hinkel, en die digter en verhoogkunstenaar Jolyn Phillips.

Gedurende die slypskoolprogram sal die gekeurde kunstenaars deelneem aan ’n reeks van werkswinkels waarin hulle projekkonsepte in samewerking met die ander deelnemers en dissiplines sal ontwikkel. Hierdie nuwe konsepte sal aan die einde van die Kunstenaarsweek as kort vertonings in onkonvensionele ruimtes in die Stellenbosch-middedorp aangebied word. Met dié Flikker & Flash-opwipvertonings wil die Woordfees ruimtes wat tans leegstaan, met lig en kuns vul en nuwe lewe blaas in ’n dorp wat swaar deur die pandemie en die gepaardgaande verlies aan koopkrag en toerisme getref is.

Die Flikker & Flash-vertonings sal op Vrydag en Saterdag, 9 en 10 April, plaasvind, maar kunstenaars sal vanaf Donderdag, 8 April, in die dorp reeds met voorbereidings doenig wees.

Op Vrydag, 9 April, sal ’n poësie- en musiekaand van 18:30 – 21:30 aangebied word. Op Saterdag, 10 April, tussen 18:00 en 22:30, sal besoekers uit ’n wye verskeidenheid van kort vertonings (5-15 minute elk) kan kies met ’n orreluitvoering in die Moederkerk ter afsluiting van die feestelikhede. Stellenbosch Wine Routes sal ook op dié Saterdag tussen 16:00 en 18:00 ’n Straatsoiree aanbied.

Toeskouerkapasiteit sal beperk word en alle geldende Covid-protokolle sal streng nagevolg word, maar alle vertonings sal gratis wees. Besoekers sal skenkings via SnapScan aan die Tribuo-fonds kan maak. Tribuo bied finansiële ondersteuning aan uitvoerende kunstenaars wat tans geen, of beperkte inkomste, as gevolg van die pandemie het: https://www.tribuo.co.za/tribuo-fonds/

Die volgende kunstenaars is vir die Kunstenaarsweek gekies en die meeste van hierdie toptalente sal ook aan die Flikker & Flash-opwipvertonings deelneem (name in alfabetiese volgorde volgens voornaam):

Andi Colombo, Anele Kose, Antoinette Kellermann, Anton Krueger, Bianca Oosthuizen, Bruce Geza, Busisiwe Mahlangu, Candice Lynn Williams, Carin Bester, Chester Marthinus, Cintaine Schutte, Danneline Anne Ramsden, Dara Beth Kometz, Enrico Ricardo Hartzenberg, Faroll Coetzee, Faye Kabali-Kagwa, Fiona du Plooy, Frances Sholto-Douglas, Inez Robertson, Ira Blanckenberg, Jacques Batista, Jane Mamotse Mpholo, Jefferson J. Dirks-Korkee, Jerome Rex, Kanya Viljoen, Lauren Dasappa, Lee Fortuin (Chase Lutron), Lee Sophia Piedt, Lehlohonolo Justice Makhele, Lisa Derryn Overy, Lolwethu Promise Sdumo, Lorin Sookool, Lukhanyiso Skosana, Luna Paige, Malizo Mdekazi, Margo Kotze, Marí Borstlap, Marinda du Toit, Melissa Myburgh, Nasfa Ncanywa, Neels van Jaarsveld, Nicole Holm, Nomathamsanqa (Thami) Baba, Peggy Zinziswa Mongoato, Philip Rademeyer, Phulusho Khwiyane, Phumlani Life Mndebele, Robert Hindley, Roxanne Abigail De Freitas, Shihaam Domingo, Sinethemba Bibi, Sonya Helena Rademeyer, Stephanie Gericke, Suzaan Keyter, Tertius Meintjes, Toni Morkel, Tony Bentel, Trude Gunther, Tyaleni Ernest Balene, Vangile ZamaZiyeka Gantsho, Veronique Jephtas, Wessel Pretorius, Whaden Johannes, Wian Taljaard, Wilken Calitz, Wolf Britz, Yaseen Manuel en Zanne Stapelberg.

Die Toyota US Woordfees Flikker & Flash word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Toyota, die Universiteit Stellenbosch, NATi,  kykNET, Tribuo en plaaslike vennote – Stellenbosch Wine Routes en Visit Stellenbosch, wat goedgunstiglik akkommodasie teen afslagpryse aan die besoekende kunstenaars verskaf.

Dr. Leslie van Rooi, Direkteur Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, sê: “Die US is verheug dat ons by kan dra om hierdie inisiatief te laat realiseer. Ons verstaan dit as deel van ons sosiale impak om kunstenaars in hierdie tyd spesifiek te ondersteun om nuut en verder te dink oor die realiteit van Covid-19 en daarna. Só bevestig die US ook sy vertoue in die werksaamhede van die Toyota US Woordfees en hou die universiteit aan om te belê in die toekomsmoontlikhede van die fees. Dit sal ook gewoon lekker wees om die uitvoerende kunste te kan beleef en vier saam met die groter dorpsgemeenskap van Stellenbosch.” 

Ook vir Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief), is die element van gemeenskap van kardinale belang: “NATi is verskriklik bevoorreg en trots daarop om by hierdie innoverende idee van die Toyota US Woordfees betrokke te wees.  Dit is presies wat ons gemeenskap nou nodig het: gemeenskap. Die wonderlike vooruitsig van die kunstenaarsweek is ook die kruisbestuiwing wat gaan plaasvind tussen verskillende groeperinge in die kunstenaarslandskap. As daar een goeie ding uit Covid gekom het, is dit die feit dat hierdie arbitrêre kleur- en taalgrense wat ons in aparte silo’s laat optree het,  skielik nie meer bestaan nie. Daar is nou net een kunstenaarsgemeenskap en ons praat die taal van die kunste. Ons praat die taal van die teater en musiek en die geskrewe woord en dans en visuele kuns. Digitale en virtuele teater het ons verlam (en ’n paar broodnodige lesse geleer) maar vernuwende projekte soos die Kunstenaarsweek hervestig ons fokus weer op die heel belangrikste element in die ekosisteem: die kunstenaar en sy gemeensaamheid met sy medekunstenaars. 2021 is ongelukkig nog nie ’n jaar vir die terugkeer na die teater met grootse produksies en massiewe begrotings nie.  Ons dink nou kreatief aan maniere om onsself uit te daag om te skep en te dink en met hernieude energie terug te keer na die teater.  Want die mense gaan ons nodig hê.”

Leo Smit, Senior bestuurder – bemarking kykNET-kanale en -inhoud, wys op die interafhanklikheid tussen TV en film en die uitvoerende kunste: “Hierdie projek dra by tot die koestering en beskerming van die wyer vermaaklikheids-ekosisteem waarvan teaters en kunstefeeste ’n uiters belangrike en groot deel vorm. Dit is nou meer as ooit belangrik om hande te vat met ons feesvennote en nuwe inisiatiewe te ondersteun.”

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, beklemtoon die rol van kunstenaars as denkleiers in troebel tye: “Die plaaslike uitvoerende kunste is in ’n krisis soos nog nooit te vore nie. Covid, swak leierskap en ’n gebrek aan artistieke visie op nasionale vlak laat die uitvoerende kunste by ’n dooiepunt. Om te oorleef moet ons nou anders dink, en wie beter om die “anders dink” te lei as juis kunstenaars. Ons hoop enersyds dat kunstenaars die week bevestiging van hulle kunstenaarskap en die waarde daarvan sal ervaar, maar ook dat die Stellenbosse gemeenskap opnuut sal besef dat die kunste en kultuur ons dorp ’n interessanter en beter plek maak om in te bly.” 

Die optreeruimtes en ’n program sal teen 6 April op al die Woordfees se digitale platforms bekend gemaak word. Hou ons op sosiale media dop en teken onderaan ons tuisblad in op die Woordfeesnuusbrief om op datum te bly met die jongste feesnuus: https://www.woordfees.co.za/afr/

Meer nieuws

9 april 2024, Actueel
In Memoriam Bart de Graaff
Onverwacht is in Pretoria de historicus dr. B.J.H. (Bart) de Graaff (64) overleden. Prof. dr. G.J. Schutte schreef een In Memoriam, ter nagedachtenis.
4 april 2024, Actueel
Augure, het speelfilmdebuut van Baloji
Imagine Filmdistributie brengt Augure (Omen) op 18 april uit in de bioscopen. Het speelfilmdebuut van de Belgisch-Congolese filmmaker, muzikant en kunstenaar Baloji werd in Cannes bekroond met de New Voice Prize. In een magisch-realistisch Congo kruisen de paden van vier personages, die door hun familie en gemeenschap als heksen of tovenaars worden beschouwd. Alleen door wederzijdse hulp […]
2 april 2024, Actueel, Persbericht
Absent Presences
On 2 April 2024, the third volume of the Zuid-Afrikahuis (SZAHN) series was launched under the title Absent Presences: Decolonizing our Views of the Zuid-Afrikahuis and its Collections. The project was part of the events that commemorated the centenary residence of the Zuid-Afrikahuis (South Africa House, ZAH) in the canal house on the Keizersgracht 141, in […]

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons