Recensie

KANSVATTER, CHARLATAN, LIEGBEK…

7 juni 2021
Auteur: Lindie Koorts
Foto:

Delen:

“Goeie heng!” is wat ek telkens kliphard vir myself gesê het met die lees van Carel van der Merwe se Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Gelukkig was my baie streng ma, vir wie “dêmmit” gewis ’n vloekwoord is, nie in die omtrek om my te hoor nie. Want hierdie verbysterende biografie kan nie anders as om ’n sterk reaksie by die leser te ontlok nie.

Daar bestaan eenvoudig binne die Afrikaner-geskiedenis geen heiliger koei as die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) nie, en in hierdie boek het mens te make met ’n figuur wat, nadat hy aan die stryd deelgeneem het, die koei lustig afgeslag het, keurig gemarineer en gebraai het, en met groot smaak, tot sy eie voordeel, aan enige potensiële weldoener opgedis het.

Ben Viljoen se verhaal staan in skrille kontras met dié van die konvensionele ‘helde’ van die Anglo-Boereoorlog. In die populêre geheue is dit krygshere soos Koos de la Rey, Christiaan de Wet en Louis Botha wat uitstaan. Afrikaners onthou die intellektuele generaals soos Jan Smuts en Barry Hertzog wat later vername premiers van die Unie van Suid-Afrika sou word. Dan is daar die ou staatsmanne, Marthinus Steyn en Paul Kruger, martelaars in hul eie leeftyd. Wat hulle almal in gemeen gehad het was dat hulle óf welvarende grondbesitters was, en sodoende lede van die Boere-elite (De la Rey, De Wet, Botha en Kruger), óf vername intellektuele met gevorderde grade wat hulle aan Europese universiteite verwerf het (Hertzog en Smuts), of beide (Steyn). Viljoen het nie oor een van die twee beskik nie. Sonder geld of grond, en met net ’n beperkte aantal jare se formele skoolopleiding, moes hy op sy eie vindingrykheid staatmaak om sy ambisies na te volg – en ambisieus was hy gewis.

As ’n arm boerseun wat in ’n Oos-Kaapse grot gebore is, het hy vir homself geleenthede geskep en aangegryp waar hy kon. As 18-jarige kom hy op die Witwatersrand aan, nét toe goud ontdek is, en in dié ontstuimige omgewing vorder hy van polisieman (een van die weinige posisies wat vir Afrikaners op die Rand beskikbaar was) tot joernalis, bevelvoerder van die Johannesburgse kommando en uiteindelik Volksraadslid. Hy weet goed hoe om die pers in te span om sy reputasie op te bou, en hoe om bande te smee met vername figure wat vir hom van nut kan wees. Hy waai saam met die politieke winde en verander maklik van kamp wanneer hy sien dat die gety draai – iets wat hy in latere jare telkemale doen. Hy neem Transvaalse burgerskap aan op ’n oomblik toe dit vir hom tot voordeel strek, en later in sy lewe doen hy dieselfde met Britse, Amerikaanse en Mexikaanse burgerskap.

Met die uitbreek van die oorlog moet hy die weerbarstige, onopgeleide, en saamgeflanste Johannesburgse kommando op die slagveld aanvoer. Die meerderheid van sy manskappe sneuwel, dros of vlug. Viljoen self skroom nie om bevele te verontagsaam en sy bevelvoerders te kritiseer nie. Al word hy tot veggeneraal bevorder, was sy oorlogsrekord alles behalwe glorieryk. Daar was oomblikke van groot dapperheid, en dan ook ledigheid, plundery en ’n geheul met die vyand wat aan hoogverraad gegrens het, indien dit nie so was nie. Hy word deur die Britte gevange geneem en na St. Helena verban net voor Louis Botha hom kon arresteer.

Ná die oorlog het hy nie eiendom of ’n professionele loopbaan waarop hy kan terugval nie – sy vordering tot op hede was suiwer geskoei op sy vermoë om netwerke te bou en vername posisies te bekom. En dit is dan dié eienskap waarop hy terugval om vir hom ’n nuwe weg te baan. Vir elke gehoor sing hy ’n ander deuntjie en sy verhaal loop met tye verbysterende draaie – van ’n hoofkarakter in die befaamde Boereoorlog skouspel wat in 1904 deur die VSA toer en groot bedrae geld maak (maar nooit sy aandeelhouers vergoed nie), tot ’n militêre adviseur tydens die Mexikaanse revolusie. Daar is die vrou en drie kinders wat hy sonder onderhoud in Suid-Afrika agterlaat, en die gewese minnares wat hom na ’n vertoning met ’n sweep en rewolwer inwag. En dan is daar die stroom boeke en koerantartikels uit sy pen, waarin hy die pap al dikker en dikker aanmaak om vir homself ’n roemryke rol in die Boereoorlog te verbeel. Sy biograaf moes bontstaan om feit van fiksie te skei – en net ’n uiters noukeurige biograaf kon dít regkry.

Carel van der Merwe bied ’n transnasionale verhaal aan wat byna ongekend is in Afrikaanse geskiedskrywing. Nadat een van Viljoen se Suid-Afrikaanse nasate vir hom toegang weier tot ’n versameling familie-dokumente, gaan Van der Merwe op sy eie speurtog, en wys hoe ’n knap navorser fragmente kan naspoor waaruit ’n hele lewe opgebou kan word. Die hoeveelheid materiaal wat hy vergader is duiselingwekkend, en sy poging om (soms letterlik) Viljoen se spore na te volg byna obsessief. In sy herinneringe skryf Viljoen dat sy woning op St Helena 300 treë vanaf die krygsgevangenekamp geleë was. Maar Van der Merwe gaan tree dit self af – dit was inderwaarheid 700 treë. Van der Merwe volg Viljoen se spore verder, deur Brittanje, Nederland, die VSA en Mexiko. Hy besoek selfs die Yaqui-stam in die weste van Mexiko, waar Viljoen as ’n mislukte vredesbemiddelaar die stryd gewonne moes gee, en waar die mense geen herinnering dra aan ’n Boere-generaal of eens bewus is van ’n land genaamd Suid-Afrika nie.

Hierdie noukeurigheid kan nougeset voorkom, maar wanneer dit by die verhaal van ’n infame leuenaar soos Viljoen kom, kan dit nie anders nie. Die boek is ’n toonbeeld van uitstekende bronnekritiek, waarin die skrywer deurgaans sy hoofkarakter se verbeeldingsvlugte teen die argivale rekord toets en dit gebruik om ’n prentjie te skilder van ’n aardsopportunis. Sy omgang met die bronne is uiters beheersd – soms té beheersd, want van melodrama in Viljoen se verhaal is daar meer as genoeg, maar die skrywer gebruik dit nie om die prentjie nog helderder in te kleur nie. Die narratief is vlot, en verloop flink, maar dit is met tye byna tersaaklik. Dit sou die verhaal kon versterk indien die skrywer Viljoen se stem meer deur direkte aanhalings kon laat hoor en so sy karakter meer lewend kon maak – Van der Merwe se kritiese afstand teenoor sy onderwerp word later ook die leser se afstand. Van der Merwe is terselfdertyd versigtig om hom nie op sy onderwerp afdwing nie – as skrywer bly hy deurgaans op die agtergrond. Hy bied nie argumente aan nie, maar sy seleksie van bronne in die bou van sy narratief laat geen twyfel wat betref sy betoog nie. Eers in die slothoofstuk bied hy ’n analitiese perspektief van Viljoen: Die ’argetipiese Hermes figuur, die sogenaamde truukster, ’n vabond en bekoorder… ’n verkleurmannetjie, iemand wat ’n nuwe gesig opsit vir elke persoon wat hy ontmoet’, en wie se identiteit, volgens Lewis Hyde, nie lê in ’n ware self agter die maskers nie, maar eerder in die ewig-verskuiwende oppervlakte (372-373).

Hierdie eienskappe onderskei Viljoen, die kansvatter, van die ander, byna mitologiese Boereoorlog-figure, en maak van die boek ’n belangrike toevoeging tot werke wat sedert 1994 poog om Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing te ontmitologiseer. Dit is deeglik nagevors, vlot geskryf, en sal byval vind by kundiges en ’n breër gehoor. Van sulke boeke is daar nie genoeg nie.

Carel van der Merwe. Kansvatter. Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Protea Boekhuis. Kaapstad. 2019. ISBN:9781485310563. 520 pagina’s, prijs: R 350.00

In catalogus

Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer nieuws

20 maart 2025, Actueel
Movies that Matter festival
Deze exclusieve vertoning biedt een unieke kans om krachtige nieuwe projecten uit Zuid-Afrika te ontdekken. Elke presentatie wordt gevolgd door een korte Q&A, zodat het publiek direct in gesprek kan gaan met de makers.
18 maart 2025, Uit het Huis
Uit het Huis: Afscheid
Afscheid nemen heeft altijd iets dubbels. Weet ik zeker dat ik dát los wil laten waar ik mijn hart aan verpand heb? Hoe voelt het om afscheid te nemen van het Zuid-Afrikahuis? Dubbel dus. Op 1 maart ga ik met pensioen. Ik zie ernaar uit om in de late herfst en winter van mijn leven […]
4 maart 2025, Journalist in het Huis
Journalis in die Huis: Hanlie Retief
Sinds 2016 verblijven er journalisten van het Zuid-Afrikaanse Media24 op de Keizersgracht. Tijdens hun verblijf van twee maanden doen de journalisten buitenland-ervaring op en schrijven zij over Nederland en Europa voor hun eigen media in Zuid-Afrika. In maart en april 2025 verblijft Hanlie Retief in het appartement boven het Zuid-Afrikahuis! 

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons