Actueel

Bronsgesig kry voete

15 maart 2023
Auteur: Hanri Wondergem
Foto: Mohau Modisakeng voor die gedenkteken wat hy geskep het.   Foto: Galerie Ron Mandos

Delen:

Die gedagte dat ’n waardevolle kunswerk, ’n kunswerk wat die wêreldleier en ikoon Nelson Mandela se lewe vier, as skrootmetaal verkoop word, is amper ondenkbaar – maar nogtans ’n nare moontlikheid.
Terwyl dit gons in Europese kunskringe kom die Suid-Afrikaanse kunstenaar Mohau Modisakeng nog tot verhaal nadat ’n gedeelte van ’n gedenkteken wat hy geskep het, in Amsterdam in Nederland voete gekry het.
“Die diefstal verteenwoordig nie net ’n verlies vir my as die kunstenaar nie, maar vir die gemeenskap wat gehelp het om die kunswerk te skep,” sê Modisakeng.
Die kunswerk waarna hy verwys, is Rona Batho – sewe reusagtige en gefragmenteerde bronsgesigte wat hy geskep het as ’n gedenkteken vir oudpres. Nelson Mandela. Dit verteenwoordig Mandela se toewyding aan sy medemens en is in September 2021 onthul.
Die gemeenskap na wie Modisakeng verwys, is eerstens die sewe (anonieme) inwoners van Bijlmer in Amsterdam wie se gesigte as modelle gedien het om die beelde te skep en tweedens die plaaslike gemeenskap en toeriste wat die Nelson Mandelapark besoek om die gedenkteken te sien.
“Inwoners het die ontwerp in 2021 gekies. Sewe (anonieme) inwoners het hul gesig geleen vir hierdie spesiale gedenkteken, wat die nalatenskap van Nelson Mandela verteenwoordig,” het Tanja Jadnanansing, ’n wyksraadslid in Amsterdam,  in ’n verklaring op Facebook geskryf
“Ek was geskok toe ek hoor dat ons gemeenskap van een van die pragtige kunswerke beroof is,” skryf sy.

Die kleinste van dié bronsgesigte het voete gekry uit Nelson Mandelapark in Amsterdam, Nederland.    
Foto: Gert-Jan van Rooij/ www.mohaumodisakengstudio.com


Modisakeng woon en werk in Johannesburg en dit is ook waar hy was toe Amsterdam se sentrum vir visuele kunste hom op  2 Maart in kennis gestel het dat een van die sewe bronsgesigte voete gekry het.
“Ek neem aan dat die stuk wat gesteel is, nie vir sy estetiese of simboliese waarde gevat is nie, maar vir sy sekondêre materiële waarde,” sê hy. “Gegewe die grootte van die stuk kon dit nie maklik of onopvallend gewees het om dit weg te dra nie,” het die polisie volgens die Nederlandse nuusblad De Telegraaf gesê. Hiermee stem Modisakeng saam.

Tanja Jadnanansing, wyksraadslid van Amsterdam, Nederland, staan langs die heining wat opgerig is nadat een van die beelde van ’n kunswerk in die Nelson Mandela-park voete gekry het.             
Foto: Facebook


Die spesifieke bronsgesig wat gesteel is, is volgens Modisakeng die kleinste van die sewe. Nogtans is dit baie swaar. Hy sê ’n vurkhyser is gebruik om die bronsgesigte in die park staan te maak. “Dit moes nogal ’n storie gewees het om die stuk te verwyder . . .”
Volgens Jadnanansing se inskrywing op Facebook, is die veiligheidsmaatreëls in die Nelson Mandelapark verskerp . ’n Heining is om die kunswerk gespan en veiligheidskameras is opgerig.
“Die polisie soek nog na die deel (die bronsgesig) en vra wenke. Daar is geen teken van die oortreders nie,” skryf Jadnanansing verder.
Modisakeng sê die gedenkteken kan tot sy “eertydse glorie” herstel word, maar dit gaan nie ’n maklike taak wees nie. “Die gesteelde stuk sal in Kaapstad hergiet moet word, na Nederland vervoer word en weer opgerig word.”
Daar is hoop dat die bronsgesig sy pad terug sal vind na die park.
“My boodskap aan die oortreders is om te oorweeg om die stuk terug te gee, as dit nog in sy oorspronklike vorm is,” sê Modisakeng. ’n Aanhaling van Mandela wat by die beelde te sien is, kan miskien as aansporing dien: “We are human through the humanity of others.”

Meer oor Mohau Modisakeng en ‘Rona Batho

Mohau Modisakeng het in 2019 deelgeneem aan Amsterdam se Nelson Mandela-ontwerpkompetisie.
Hy het die ander deelnemers uitgestof met sy ontwerp en is as wenner aangewys.
Modisakeng is veral bekend om fotografie, rolprente, beeldhouwerk en uitvoerende kuns.
Die fokus van sy kunswerke is dikwels op rasseskeiding en die geweld wat post-apartheid-Suid-Afrika en Afrika kenmerk.
Rona Batho was die eerste kunswerk van Modisakeng wat regstreeks verband hou met Mandela.
Modisakeng sê die gedenkteken bring hulde aan die gewone mense en die diversiteit van die buurt Bijlmer.
“Hulle leef en werk saam, en is ’n ware voorstelling van Mandela se nalatenskap, aangesien Mandela self altyd beklemtoon het dat die stryd teen apartheid nie deur hom alleen gewen is nie.”

Mohau Modisakeng voor die gedenkteken wat hy geskep het.  
Foto: Galerie Ron Mandos

Meer nieuws

9 april 2024, Actueel
In Memoriam Bart de Graaff
Onverwacht is in Pretoria de historicus dr. B.J.H. (Bart) de Graaff (64) overleden. Prof. dr. G.J. Schutte schreef een In Memoriam, ter nagedachtenis.
4 april 2024, Actueel
Augure, het speelfilmdebuut van Baloji
Imagine Filmdistributie brengt Augure (Omen) op 18 april uit in de bioscopen. Het speelfilmdebuut van de Belgisch-Congolese filmmaker, muzikant en kunstenaar Baloji werd in Cannes bekroond met de New Voice Prize. In een magisch-realistisch Congo kruisen de paden van vier personages, die door hun familie en gemeenschap als heksen of tovenaars worden beschouwd. Alleen door wederzijdse hulp […]
2 april 2024, Actueel, Persbericht
Absent Presences
On 2 April 2024, the third volume of the Zuid-Afrikahuis (SZAHN) series was launched under the title Absent Presences: Decolonizing our Views of the Zuid-Afrikahuis and its Collections. The project was part of the events that commemorated the centenary residence of the Zuid-Afrikahuis (South Africa House, ZAH) in the canal house on the Keizersgracht 141, in […]

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons