Actueel

Wenners van die 2023-UJ-debuutprys en die 2023-UJ-prys

12 april 2023
Auteur: Persbericht
Foto:

Delen:

Die wenners van die 2023-UJ-debuutprys en die 2023-UJ-prys is bekendgemaak. Altesaam 62 boeke in enige genre wat in 2022 in Afrikaans verskyn het, het meegeding om dié twee pryse. 13 van die inskrywings was debute.

Die 2023 UJ-debuutprys word toegeken aan Carien Smith vir haar kortverhaalbundel eksperimentele en wetenskapsfiksie BOT (Tafelberg).

Die 2023 UJ-prys word toegeken aan Antjie Krog vir haar digbundel Plunder (Human & Rousseau).

Carien Smith het ’n meestersgraad in die filosofie aan die Universiteit van Johannesburg behaal en is tans besig met haar PhD aan die Universiteit van Sheffield. Die tydige verskyning van haar debuutbundel kortverhale waarin tegnologie voorrang neem, en robotmatige intelligensie aangeprys word, is besonder relevant vir die tyd waarin ons leef. Die verhale beweeg op die terrein van spekulatiewe fiksie, die distopiese en ekokritiese terwyl dit morele vraagstukke aan die bod stel.

BOT is deur die beoordelaars beskryf as ’n bundel met “baie stof tot nadenke, met prikkels wat die leser aanmoedig om te begin spekuleer – oor hoe volhoubaar en soomloos ’n saambestaan tussen mens en masjien is”.

    Smith skryf met ’n sterk hand en ’n ryk verbeelding en neem die moderne mens (die leser?) onder kruisverhoor met vrae oor tegnologie, die klimaatkrisis en die mens se rol as beskermer van die natuur.

    In elke kortverhaal word aktuele kwessies verplaas na Smith se postapokaliptiese storiewêreld – hoe lyk klasseverskille, genderrolle, godsdiens, opvoeding, politiek, die ekonomie wanneer die limiete van menslikheid en menswees uitgedaag word. En hoe lyk die individuele en kollektiewe identiteite in só ’n wêreld.

    As ’n geheel, sing al die korverhale in Bot baie mooi saam, en op dieselfde noot – dit sorg vir ’n plesierige en opwindende lees.

Die internasionaal gerekende en immergewilde digter Antjie Krog ontvang die UJ-prys vir die tweede maal, nadat dit ook in 2001 vir Kleur kom nooit alleen nie aan haar toegeken is. Krog ontvang die prys vir Plunder, haar twaalfde digbundel in Afrikaans.

In die motivering vir die toekenning van die prys, het die beoordelaars gewys op die ars poetica wat Plunder onderlê:

    In tipiese Krog-idioom – onbeskroomd, dog meevoerend liries – verwoord die digter in Plunder die onsekerhede en vrese van ons tyd (klimaatsverandering, sosiale ongelykheid). Dit is asof digkuns vir Krog ’n manier van dink geword het, die metode waarmee sy vrae aanpak. Dit veroorsaak dan dat die leser ook deur ’n denkproses gaan, die poësie hier vir ons ’n manier om te dink oor dit wat soms oorweldigend en verlammend is.

Die vele vlakke waarop plunder en plundering in die bundel ondersoek word, is beskryf as

    Die plundering van die liggaam deur tyd, maar ook die plundering van die web van ander tekste waarbinne die bundel sy beslag kry en wat byvoorbeeld in “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” geskakel word aan die plundering van die land deur kolonialisasie.

Die digter is aangeprys vir die manier waarop sy telkens daarin slaag om haar gedigte en digterskap te hersien en te verruim:

    Antjie Krog doen met hierdie bundel wat sy die beste doen: sy oortref haar vorige werk en spreek die wêreld aan. Die balans tussen haar persoonlike en publieke self is op ‘n sensitiewe manier bereik. Plunder is uitdagend en ontroerend. ‘n Boek wat op sosiale vlak die kollektiewe bewussyn en selfbewustheid vaslê. Dit is poësie op sy beste in ‘n tyd van plundering.

    Plunder is duidelik ’n produk van harde werk, maar dit inspireer ook harde werk: vir lesers, kritici, akademici én skrywers, met laasgenoemde wat hopelik terug drawing board toe is na hulle dit onder oë gekry het. Plunder skuif die naald, dit is ’n benchmark vir wat moontlik is in Afrikaanse letterkunde.

Die Universiteit van Johannesburg is trots daarop dat die debuutpryswenner, Carien Smith, ’n alumna van UJ is. (Francois Durand, wie se boek Die menslike dieretuin ook in 2023 op die debuut kortlys was, is ook ’n alumnus van UJ.)

Die eerste UJ-pryse vir Afrikaans is in 2001 (vir die jaar 2000) toegeken, met vanjaar dus die 22ste keer wat dit toegeken word. 2001 was ook die jaar wat Antjie Krog dit die eerste keer ontvang het (vir Kleur kom nooit alleen nie). 22 jaar later, ’n tweede UJ-prys aan Krog.

Die paneel beoordelaars vir die 2023 UJ-pryse vir Afrikaans was die bekroonde digters Ronelda Kamfer en Ryan Pedro, en die letterkundiges dr. Bibi Burger (UK), dr. Amanda Marais (US) en prof. Karen de Wet (UJ). Die pryse word in die tweede helfte van die jaar aan die wenners oorhandig by ’n geleentheid wat die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste aanbied vir wenners van UJ-pryse.

Meer nieuws

29 januari 2026, Actueel
Scriptieprijs 2026
Heb jij een masterscriptie geschreven die licht werpt op de relatie tussen Nederland (en/of Europa) en Zuidelijk Afrika? Dan nodigt het Zuid-Afrikahuis je van harte uit om mee te dingen naar de Zuid-Afrikahuis Scriptieprijs 2026. Het Zuid-Afrikahuis reikt deze tweejaarlijkse prijs uit aan een universitaire of HBO-masterscriptie waarin de relatie tussen Nederland (en/of Europa) en […]
15 januari 2026, Actueel
Boekententoonstelling Reizen – door de bladzijden van Zuid-Afrika
De tentoonstelling is te zien van 13 januari tot 9 april. Wij zijn open op maandag, dinsdag en donderdag tussen 10:00-16:00. Het Zuid-Afrikahuis presenteert een bijzondere boekententoonstelling rond het thema reizen naar Zuid(elijk)-Afrika. De tentoonstelling verkent drie vormen van reizen die door de eeuwen heen zijn opgeschreven en weergegeven in boeken, met kaarten en illustraties: […]
1 december 2025, Actueel
Oratie Dr. Jolyn Phillips – Leerstoelhouder: Zuid-Afrika: Talen, Literaturen, Cultuur en Maatschappij
“Bientang ’n !nau epos: die reis van ’n digter-navorser” Hierdie referaat ondersoek die verhouding tussen die Afrikaanse epos Bientang deur Jolyn Phillips en die rolle van ’n digter-navorser wat met argief-en inheemse kennis omgaan. Deur Bientang se narratiewe struktuur en temas te ontleed, ontdek ons hoe die digter se betrokkenheid by historiese tekste en plaaslike […]

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons