Op 10 en 11 November 2025 is daar in Het Zuid-Afrikahuis ’n strategiese beplanningsessie gehou. Professor Llewellyn van Zyl (van Psynalytics en die Noord-Wes Universiteit in Suid-Afrika), ’n ervare bedryfsielkundige, het ons begelei en die mense wat saam gedink het was kollegas van Het Zuid-Afrikahuis, algemene bestuurslede, een van ons leerstoele, en gewaardeerde vrywilligers en vriende van ons huis.
Die beklinkreël wat die breë koers van ons plan beskryf is: om van Het Zuid-Afrikahuis ‘n tuiste te maak.
Die koers is nie iets splinternuut nie, maar poog om die doel van Het Zuid-Afrikahuis soos dit in die Stigting se statute beskryf staan vir al meer as 100 jaar vir die moderne era te vertaal. Hoe bevorder ons vandag bande tussen Nederland en Suid-Afrika in ’n ruim sin, veral op kulturele gebied? Hoe bevorder ons die kennis en studie van die Afrikaanse taal en kultuur en Suid-Afrikaanse geskiedenis vandag, deur ook ander Suid-Afrikaanse tale en kulture te betrek? En die breë Suid-Afrikaanse geskiedenis te bestudeer?
Een van die belangrikste strategieë om die doele te bereik is deur die uitwisseling van mense en idees. Baie van Het Zuid-Afrikahuis se projekte is afgestem op uitwisseling: die Jongeren Projek fasiliteer die uitwisseling van studente tussen Suid-Afrika en die Lae Lande. Die Stigting Studiebeurs gee Suid-Afrikaanse studente geleenthede om in Nederland te studeer vir korter en langer tye. Die Burger stuur ’n joernalis na Het Zuid-Afrikahuis elke twee maande om in Amsterdam te woon en werk. Studente en navorsers uit Suid-Afrika en elders vanuit die wêreld besoek die biblioteek en argief in ons huis om navorsing te doen, ensomeer.
In sy toespraak by SASNEV in Oktober 2025, vra die voorsitter van die Stigting Het Zuid-Afrikahuis die volgende vrae: “Kunnen we die contacten over-en-weer nieuwe impulsen geven? Hoe? Met wie? Waar liggen kansen? Welke perspectieven zien we?” Ek wil dit kortliks oor twee aspekte van die nuwe koers hê: wie is die doelgroepe van Het Zuid-Afrikahuis vandag? En hoe verbind ons mense en idees op die langer termyn? Hoe maak ons van ‘n huis ’n tuiste waarheen mense terugkeer?
Daar is twee gevestigde doelgroepe van Het Zuid-Afrikahuis: Nederlanders met ’n hart vir Suid-Afrika; en akademici (studente, dosente, navorsers) wat hulself besig hou met Suid-Afrikaanse taal-, kulturele- en geskiedenisstudies. Die eerste groep is aan die verander. Nederlanders van vandag sien Suid-Afrika as reisbestemming, veral om nader aan die natuur te kom. In ons nuwe koers gaan ons voort om hierdie tradisionele doelgroep te dien wanneer ons kulturele geleenthede aanbied wat ons weet die groep aanspreek. Verder wil ons die Nederlandse reisigers na Suid-Afrika ondersteun deur kulturele en geskiedkundige informasie te verpak vir belangstellendes. Die tweede doelgroep bly ’n belangrike doelgroep want Het Zuid-Afrikahuis is ’n kennis- en kultuursentrum met ’n biblioteek en argief wat skatte inhou vir navorsing. Ons wil die groep betrek deur hulle te vra om “Stories uit die argief van Het Zuid-Afrikahuis” te vertel en ons argief nog verder te digitaliseer sodat meer studente en navorsers ons argief kan gebruik.
Daar is ten minste twee nuwe doelgroepe wat Het Zuid-Afrikahuis wil betrek: Suid-Afrikaners wat woon en werk in Nederland en die Nederlandse museumpubliek. Die manier waarop ons hierdie en ons gevestigde doelgroepe langer en meer betrokke wil maak is om Het Zuid-Afrikahuis as ‘n veilige derde ruimte te ontwikkel waar almal met ‘n hart vir Suid-Afrika tuis kan voel. ’n Derde ruimte is ’n sosiale ruimte wat apart van mens se huis (die eerste ruimte) en werkplek (die tweede ruimte) ’n ruimte is waar mense kan ontmoet, ontspan en op informele maniere interaksie met mekaar kan hê.
Metafories, wil Het Zuid-Afrikahuis ’n voorkamer ruimte en ervarings ontwikkel waar mense met ’n hart vir Suid-Afrika informeel en gemaklik kan ontmoet en idees uitwissel. Die “ruimtelike” deel word ontwikkel deur ’n lessenaar in die voorkamer te sit waar ons genote, byvoorbeeld die Cheetah Rugby span bestuur, van tyd tot tyd kan werk wanneer hulle in die Europese Challenger Cup hulle “tuiswedstryde” in Amsterdam speel; en leesstoele en lampe waar kollegas en besoekers kan ontspan of deel van gesprekke kan wees. Die “ervaringsdeel” sluit onder andere ope dae in waar die biblioteek aktiwiteite vir kinders met meertalige boeke in Afrikaans en ander tale aanbied; en waar ons vir ouers wisselende tentoonstellings aanbied in die voorkamer en gang waar ons argiefstukke vertoon om so die skatte in die argief te laat sien en kennis te deel.
Hierdie is ’n klein deel van die strategiese plan waarmee Het Zuid-Afrikahuis as dié kennissentrum, kulturele tuiste en woonkamer Suid-Afrika wil verbind met die Lae Lande. In my eerste bydrae tot Spektrum het ek gehoop dat Het Zuid-Afrikahuis vir ons almal ’n tweede tuiste kan word. Vandag het die idee al weer verder ontwikkel en hoop ek dat Het Zuid-Afrikahuis vir ons almal ’n veilige derde ruimte kan word waar ons vir nog baie jare tuis kan kom. Hou die ruimte dop. As ons die woonkamer gereed het, laat ons u weet!