Een van die dinge wat ek die meeste geniet as mede-bewoner van Het Zuid-Afrikahuis, is die deurlopende stroom interessante besoekers wat ’n draai kom maak. Die skrywers word veral waardeer, want sonder uitsondering besoek hulle ons huis om hulle nuutste boek as geskenk te gee vir ons biblioteek. Hoe gelukkig is ons nie!
In die onlangse verlede het Julia-Beth Harris haar beeldskone boek, ‘Where the clouds gather’ (2025), vir ons kom gee. Die boek, geskryf en geteken in haar unieke styl, is die verhaal van ’n hedendaagse migrant van die Cape Flats tot in Amsterdam. Sy worstel met die gedeelde geskiedenisse van hierdie twee plekke waar sy vandaan kom, en gaan, soos ’n wolk. Haar boek vra, as wêrelde bots of aandonder teen mekaar, wat kies ons dan? Om bang te wees? Om te probeer oorheers? Om lief te hê? Of om die potensiaal van die alomteenwoordige verandering wat loskom uit die botsing te omhels? Ten slotte sê Julia-Beth, “We are water, earth, fire, air / migrating, moving, reciprocating, / remembering, gathering / That is what makes a home / and a sense of belonging / is not created alone”. Dankie dat jy ons huis kom besoek het Julia-Beth. Jy help ons om na te dink daaroor dat ons huis ’n tuiste word as mense wat van ver af kom en gaan ook voel hulle hoort daar.
Die kwiksilver persoonlikheid van Anthony Akerman is tasbaar wanneer hy my kom groet en sy nuutste boek, “Lucky Bastard”(2024), vir ons biblioteek skenk. Die boek handel oor die geweldige moment in sy tiende jaar toe hy vertel word dat hy ’n aangenome kind is. Soos net ’n dramaturg kan, vertel hy ’n fasinerende verhaal “about exile and homecoming” (soos Vladislavić op die flapteks beskryf). Anthony het in Amsterdam gewoon vanaf die middel 1970s. Hy is eers in die 1990s weer terug na Suid-Afrika. Ek s֜ê dankie aan Anthony vir die kopie van sy boek en ons gesprek lei na die biblioteek in Het Zuid-Afrikahuis. Ek vra of hy die geskiedenis ken van die boeke wat in die Keizersgrag gegooi is in 1984. Anthony weet hiervan.
Op sy beurt vertel hy van die rol wat die biblioteek van Het Zuid-Afrikahuis gespeel het in die konteks van boeke wat verban of gesensor was in Suid-Afrika. Hy herinner hom nog dat die eerste Afrikaanstalige boek A.P. Brink se ‘Kennis van die aand’ (1973) was wat in 1974 gesensor is. Wat hy onthou, was dat die boek wel in die biblioteek van Het Zuid-Afrikahuis was en dat mense dit hier kon lees. Verder wys ons bibliotekaris, Rosalie Dols, my die verstommende boek waarin die sensorskap opdrag vir “Kennis van die aand” gedokumenteer is:
The Publication may not knowingly be sold or hired out, or lent out by lending libraries to persons under the age of 18 years; and the publication may only be sold, hired out or lent out by lending libraries, in hard cover. (Jaconbsens objectionable literature index, p. 225)
Zuid-Afrikahuis is bekend met boeke en besoekers wat van ver af kom. Hier vind selfs “objectionable” Afrikaanse boeke ’n tuiste. Ek sien uit na die volgende gas in ons huis en hulle boek – “objectionable” of nie.