Actueel

In memoriam Jacques van der Elst

14 april 2022
Auteur: Hein Viljoen
Foto: Prof. Jacques van der Elst en zijn vrouw Betsie

Delen:

In memoriam Jacques van der Elst (30 Januarie 1940 – 25 Maart 2022)

Op 25 Maart 2022 het ons die hartseer nuus verneem dat prof. Jacques van der Elst, voormalige kollega en voormalige hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in Pretoria oorlede is. Hoewel hy ʼn geruime tyd siek was, bly die finaliteit van sy dood ʼn groot skok. Ons harte gaan uit na sy vrou, Betsie, en hulle kinders en kleinkinders.

Sy loopbaan

Jacques van der Elst is in Den Haag gebore, maar het in 1953 saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Hier het hy in 1957 aan die Hoërskool Cillié, in Port Elizabeth (Gqeberha), gematrikuleer en daarna as leerlingverslaggewer by Die Oosterlig in Port Elizabeth gaan werk. In 1960 verwerf hy ’n beurs van Nasionale Koerante en begin sy BA-studie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Na sy studie keer hy vyf jaar lank terug na die joernalistiek (o.a. as subredakteur) en behaal met deeltydse studie ʼn BA-Honneursgraad aan Rhodes-Universiteit en ʼn MA-graad met lof aan die Universiteit van Port Elizabeth. Daarna studeer hy in Nederland en behaal in 1970 die Drs. Litt. Sy Ph.D. verwerf hy in 1975 aan die Universiteit van Natal met ‘n proefskrif oor karakterisering in enkele Nederlandse romans.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika word Jacques aangestel as lektor en later senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal (Pietermaritzburg). In 1973 word hy as senior lektor vir Afrikaans en Nederlands aan die PU vir CHO aangestel. In 1979 word hy tot professor aldaar bevorder. In 1984 word hy hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands en in 1995 voltydse dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Vanaf 2002 tot 2005 was hy hoof van die universiteit se kantoor vir internasionale betrekkinge.

Deur die jare het Jacques hom geopenbaar as ’n menslike, onkreukbare en bekwame bestuurder. As departementshoof van Afrikaans en Nederlands het hy die departement kragtig uitgebou – onder andere deur ’n merkwaardige aantal beurse en toekennings vir studente te beding. As dekaan moes hy die fakulteit deur die moeilike en stormagtige waters van rasionalisasie stuur. As direkteur het hy die Internasionale Kantoor stewig gevestig en die internasionale betrekkinge, ook van die nuwe Noordwes-Universiteit, energiek aangepak.

Na sy aftrede as professor aanvaar Jacques in 2005 die pos van hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. As HUB kon hy die benarde finansiële posisie waarin hierdie instelling destyds verkeer het, omkeer en op ʼn veel sterker voet laat by sy aftrede in 2012. Die Akademie se beursprogram vir nagraadse studie in Afrikaans het ook onder sy leiding tot stand gekom. Vir sy besondere bydrae het die Akademie in 2020 erelidmaatskap aan hom toegeken – die Akademie se hoogste eerbewys.

Van 2007 tot 2012 was Jacques ook die eerste hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalraad en het hy reuse-werk gedoen om die verskillende belangegroepe te laat saamwerk en om die Raad se grondwet geskryf en aanvaar te kry. In moeilike tye het hy Afrikaans as taal help groei en die hoëfunksiestatus daarvan op ’n vaste grondslag help plaas. Sy passie vir Afrikaans as moedertaal en wetenskapstaal is dié deel van sy nalatenskap waarvoor hy in Suid-Afrika waarskynlik die bekendste is.

Jacques het steeds betrokke gebly by die werksaamhede van die Akademie en gedien op die komitees vir beurse en vir navorsing. As publikasiebeampte van die Akademie het hy ook ʼn besondere bydrae gelewer deur die reeks publikasies oor Hertogpryswenners te bedink, te versorg en te laat publiseer. Hy het self die eerste uitgawe in die reeks, Adam Small: denker, digter, dramaturg: ‘n huldiging, geredigeer en was tot op die laaste besig met die versorging van die volgende uitgawe in die reeks – ʼn projek, soos hy self gesê het, wat hom sal oorleef.

Besondere bydrae tot die Neerlandistiek in Suid-Afrika

Vir my is sy vernaamste nalatenskap die enorme bydrae wat Jacques gelewer het tot die vestiging en uitbou van die Neerlandistiek in Suid-Afrika. Daar is eerstens sy meer as sestig wetenskaplike en populêre publikasies oor Nederlandse letterkunde en die literatuur in die algemeen. Hy het ook talle referate by kongresse gelewer, dikwels oor sy gunsteling-skrywer, Lucebert, en ook oor De Stijl en visuele poësie. Besonder belangrik was die Suid-Afrikaanse uitgawe van Couperus se Van oude mensen die dingen die voorbijgaan wat hy vir Academica versorg het, en veral ook Momente uit die Nederlandse letterkunde (1988), ʼn oorsig oor die Nederlandse letterkunde vir Suid-Afrikaanse studente wat hy saam met Heinrich Ohlhoff en H.J. Schutte saamgestel het.

Jacques het in 1988 opspraak verwek toe Internationale Vereniging voor Neerlandistiek, tydens die kulturele boikot, geweier het om hom as Suid-Afrikaner toe te laat om aan die kongres in Gent deel te neem. Hy moes hom na die hof wend voordat hy sy voorregte as lid van die IVN kon uitoefen en die kongres op eie koste kon bywoon.

In moeilike tye het Jacques die band tussen Afrikaans en Nederlands lewendig help hou. In 1992, kort nadat die ANC ontban is en die bande tussen Suid-Afrika, Vlaandere en Nederland weer begin normaliseer het, het Jacques ‘n Neerlandistiekkongres in Potchefstroom georganiseer. Vir die eerste keer sedert die instelling van die kulturele boikot teen apartheidsinstellings kon Nederlandse en Vlaamse akademici weer aan ʼn kongres in Suid-Afrika deelneem. Na afloop van die kongres is besluit om die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) te stig. Jacques is verkies as die eerste voorsitter – ʼn posisie wat hy tot in 2004 beklee het. In daardie hoedanigheid het hy hard en onvermoeid gewerk om die agterstand van die boikotjare in te haal en Nederlands in Suid-Afrika weer ’n vasstrapplek te gee. Hy het talle kongresse, simposia, werkwinkels en skrywersbesoeke help georganiseer en gereeld saam met die Nederlandse Taalunie besin oor die ondersteuning en die uitbouing van die Suid-Afrikaanse Neerlandistiek vanuit Nederland en België.

Deur die jare het Jacques ook betrokke gebly by die Neerlandistiek in Nederland en Vlaandere en internasionaal. Hy het as gasprofessor lesings gegee in Groningen, Luik, in San Francisco, Madison, Buffalo in die VSA, Wroclaw, Poznan en Warskou in Pole en ook in Wene, Boedapest, Helsinki, Stockholm en selfs in Djakarta. Vir langer periodes was hy twee keer gasdosent aan die Katolieke Universiteit van Leuven. Hy was ook gasdosent aan die Universiteit van Namibië en die Universiteit van die Vrystaat. Hy het lid van die IVN gebly, gereeld deelgeneem aan die kongresse van die IVN en ook van 2003 tot 2005 op die hoofbestuur van die IVN gedien.

Optrede in wyer verband

Jacques was deur die jare ook aktief in talle ander kultuurorganisasies. Hy was lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Hy was ook voorsitter van die Vlaams-Suid-Afrikaanse Kultuurstigting en lid van die hoofbestuur van die International Education Association of South Africa (IEASA). Hy was sedert 2008 lid van die direksie van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en ook lid van die Navorsingstrust van die Erfenisstigting (Voortrekkermonument). Hy was voorsitter van die Beheerraad van die ATKV-Skryfskool en president van die Suid-Afrikaans-Nederlandse Ontwikkelingstigting. Hy het ook op die Adviesraad van Akademia, die Solidariteitbeweging se privaat Afrikaanse universiteit, gedien.

Dit was my voorreg om deur die jare op verskillende terreine met Jacques te kon saamwerk – aan Woord en Daad, in Udusa (die Union of Democratic University Staff Associations) en die stryd om demokrasie, aan die bevordering van Nederlands, die ontvangs van buitelandse besoekers, die organiseer van jongerenprojekte en skrywersreise, les bes aan die aktiwiteite van die Akademie. Wat ek besonder van hom waardeer, is sy diep Christelike oortuiging. Hy en Betsie is albei innige en oortuigde Christene en leef hulle geloof elke dag uit. Dit blyk uit hulle gasvryheid en gemaklike omgang met mense. Dit het ook prakties gestalte gekry in sy werk in kerklike kringe, as lid van die Deputate vir Tydskrifte van die Gereformeerde Kerk, op die redaksie van Die Vroueblad en as redakteur van Woord en Daad waar hy in ’n lang reeks artikels prinsipiële leiding gegee het. Hy het onder andere lank voor 1990 reeds die vrylating van Nelson Mandela bepleit.

As jonger kollega in Afrikaans en Nederlands het ek ’n heilige ontsag vir Jacques gehad, maar ek kon tog baie by hom leer oor die poëtika van Willem Kloos, die naturalisme van Couperus, die alledaagsheid van Rutger Kopland en veral oor Lucebert, sy gunstelingskrywer, en oor visuele kunste en die letterkunde – veral oor die werk van De stijl. Onder leiding van prof. Dawie Steenberg het ek ook met Jacques saamgewerk aan twee groot navorsingsprojekte van die Departement wat deur die RGN befonds is, nl. oor die Christelike gegewe in die Afrikaanse letterkunde en oor die Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Sy kundigheid en bekwame leiding het baie bygedra tot die sukses van hierdie groot projekte.

Ons eer sy nagedagtenis as kundige en eerbare kollega, deeglike administrateur, energieke yweraar vir Afrikaans en Nederlands in Suid-Afrika en as innemende en gelowige mens.

Hein Viljoen

Noordwes-Universiteit


De podcast Taaldinge wijdde op 3 april een aflevering aan prof. Jacques van de Elst. Bestuurshoofd prof. Anne-Marie Beukes, van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en taalkundige, prof. Wannie Carstens, brengen hulde aan Van de Elst.

Klik hier om de aflevering te luisteren.

Meer nieuws

9 april 2024, Actueel
In Memoriam Bart de Graaff
Onverwacht is in Pretoria de historicus dr. B.J.H. (Bart) de Graaff (64) overleden. Prof. dr. G.J. Schutte schreef een In Memoriam, ter nagedachtenis.
4 april 2024, Actueel
Augure, het speelfilmdebuut van Baloji
Imagine Filmdistributie brengt Augure (Omen) op 18 april uit in de bioscopen. Het speelfilmdebuut van de Belgisch-Congolese filmmaker, muzikant en kunstenaar Baloji werd in Cannes bekroond met de New Voice Prize. In een magisch-realistisch Congo kruisen de paden van vier personages, die door hun familie en gemeenschap als heksen of tovenaars worden beschouwd. Alleen door wederzijdse hulp […]
2 april 2024, Actueel, Persbericht
Absent Presences
On 2 April 2024, the third volume of the Zuid-Afrikahuis (SZAHN) series was launched under the title Absent Presences: Decolonizing our Views of the Zuid-Afrikahuis and its Collections. The project was part of the events that commemorated the centenary residence of the Zuid-Afrikahuis (South Africa House, ZAH) in the canal house on the Keizersgracht 141, in […]

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons