Die Prestasieprys van die Van Ewijck Stigting vir 2023 gaan aan dr. Hans Ester. Die prys van R75 000 word jaarliks deur hierdie Kaapse organisasie toegeken vir bydraes tot die kulturele uitwisseling tussen Suid-Afrika en Nederland.
Hans Ester, voormalige dosent aan die Radboud Universiteit van Nijmegen, het ‘n groot deel van sy lewe gewy aan lesings en navorsing oor en bekendstelling van die Afrikaanse letterkunde in Nederland. Sy artikels het in Afrikaanse en Nederlandse tydskrifte en boeke verskyn, ook in Nederlandse koerante het hy dikwels oor Afrikaans geskryf. Onder sy boeke oor Afrikaans tel Land onder die Suidersterre. Opstellen, voordrachten, gesprekken en recensies over de Zuidafrikaanse letterkunde en Het helende woord. Poëzie en proza van Elisabeth Eybers. Hy was ook vir verskeie vertalings uit Afrikaans na Nederlands verantwoordelik, veral van die poësie van Breyten Breytenbach en Elisabeth Eybers. Hy was jarelank voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut wat gesorg het vir navorsing, publikasies en lesings oor Suid-Afrika in Nederland. Die Universiteit van Potchefstroom (Noordwes) het ’n aantal jare gelede ’n eredoktoraat aan hom toegeken.