Aan sy gaste word ń huis geken. Het Zuid-Afrikahuis was in Julie 2026 bevoorreg om die volgende mense as gaste in die huis te ontvang: Wisaal Abrahams (van die ManVrou Collective, Kaapstad), Lauren Disappa (bekende Suid-Afrikaanse sopraan van Stellenbosch Universiteit), en die talentvolle musikante van die Kaapse Klops Karnival Association (KKKA) en die Cape Malay Choir Board (CMCB): Rafeeq Domingo, Wazier Salie, Ameen ‘Bruno’ Hernandez, Abdu-Daiyaan Floris, Taurik “Tolla” Blignaut en Faldie Trout (President van die CMCB). Die dokumentêre filmmaker AK het die optredes van die groep gedokumenteer en sy werk saam Wisaal as eindredakteur sal ook in die argiewe van Het Zuid-Afrikahuis gebêre word. Die besoek van hierdie spesiale gaste was deel van die Frequency of Freedom (FoF) projek onder die kuratorskap van Wisaal Abrahams, in medewerking met DutchCulture, Het Zuid-Afrikahuis, die Van Ewijck Stichting en Die Burger.
Die FoF projek het ten doel gehad om die uitwisseling van musikale erfgoed te bewerkstellig tussen die Kaaps-Maleise gemeenskappe in Suid-Afrika en Nederland. Jaarliks vind daar in Suid-Afrika in Januarie ń Tweede Nuwejaar Kaapse Klopse fees plaas waaraan ongeveer 100,000 mense deelneem. Daar vind ook ń koorkompetiesie plaas in Oktober waaraan ongeveer 20,000 mense deelneem. As deel van die Kaaps-Maleise koorkompetiesie, is daar ń afdeling vir Nederlandse liedjies. In hierdie afdeling sing die kore Nederlandse liedjies wat oor baie jare deel van die liedskat van die gemeenskappe geword het. Dit sluit liedjies in soos “Mooi Holland”.
Tydens die FoF projek het Wisaal Abrahams en die musikante wat bekend geraak het as die Kaapse Kwintet, ń musikaal narratiewe optrede gedoen waarin hulle iets van die oorsprong van die Nederlandse liedere in die Kaaps-Maleise gemeenskap vertel het. Op ń baie unieke manier, is “Nederlandse erfgoed” wat oor baie jare in Suid-Afrika bewaar is in die Kaaps-Maleise gemeenskappe, “teruggee” aan Nederlandse gehore. Die groep se vertonings in die Mauritshuis in Den Haag, by die IISG (International Institute of Social History), by die KITLV (Royal Netherlands Institute of South-East Asian and Caribbean studies), by Framer Framed en ook in Het Zuid-Afrikahuis het gehore op hul voete gehad. Die refleksie van Vera Bos van Mauritshuis som die sukses van die vertonings gepas op:
The impact of the programme was significant. The music offered points of connection for a wide range of visitors, while the storytelling made the legacy of colonialism personal, tangible, and deeply human. Many visitors told me how meaningful they found the performance. The presence of the artists themselves contributed greatly to our decolonising efforts and, in many ways, was more effective than a traditional lecture or guided tour.
Ek is dankbaar om as deel van die werk wat ons span kon doen, hierdie besondere projek en gaste in Het Zuid-Afrikahuis te kon ontvang en ondersteun. Hulle besoek het Het Zuid-Afrikahuis in kontak geplaas met instellings waarmee ons nie in die verlede sulke noue bande gehad het nie. Matthias van Rossum (van IISG) sê die projek: “helped highlight the work of the Zuid-Afrikahuis and craft connections between institutions”. Amaal Salie from KITLV sê: “The event also changed the way I think about Zuid-Afrikahuis … It has become a place where scholars, artists, musicians and community organisations can come together around shared questions of history, memory and belonging”.
Wat ’n voorreg om Het Zuid-Afrikahuis vir ’n tyd lank meer voltyds te kon bewoon, veral met gaste van dié kaliber. Hierdie is die laaste uitgawe van Spectrum waaraan ek as direkteur deelneem, omdat ek van 1 September 2026 weer voltyds vir die Noordwes-Universiteit in Suid-Afrika sal werk as akademikus. Die lokroep na my nagraadse studente en navorsing oor meertaligheid is gewoon te sterk. Ek verlaat nie Het Zuid-Afrikahuis nie. Ek hoop om in ’n nuwe kapasiteit as vrywilliger nog lank ’n besoeker en deelnemer in ons huis te kan wees. Sien julle daar en baie sterkte en sukses aan my opvolger en die span met toekomstige projekte.