Recensie

’n Opgetekende Argief van die Self in Soekenjin geskryf deur Bibi Slippers

11 januari 2024
Auteur: Dylan Lee
Foto: Bibi slippers & foto van omslag. Foto Bibi Slippers door Henneri de Wet

Delen:

Soekenjin waar daar van die huidige internet milieu sin probeer gemaak word, binne die ruimte van die self en die Internet van Dinge

’n Soekenjin per definisie is ’n “rekenaarprogram wat ’n mens gebruik om iets op die internet te vind”, maar in die geval van Bibi Slippers se onlangse bundel met dieselfde titel is dit glad nie so eenvoudig nie. In ’n onderhoud verklaar Slippers dat soekenjins deur die bank die enjins is wat die wêreld laat draai en aanhou beweeg. Hierdie “gesoek is wat ons vorentoe stuur”. In die sentrum van die bundel lê die verskynsel na die begeerte om te soek en te verstaan in ’n wêreld oorweldig deur ’n magdom bronne, inligting, sosiale media en die internet. Ten einde skep dit ’n geheelbeeld van ’n eindelose soekgeskeidenis en argief, wat die huidige milieu van introspeksie en selfondersoek saamvat.

Soekenjin is Slippers se tweede bundel en volg sewe jaar na die publikasie van Fotostaatmasjien in 2016. Slippers verduidelik dat anders as in die geval met Fotostaatmasjien wat ’n “working title” gehad het, het die skryf van hierdie bundel begin met die titel waarmee sy “tot die einde kon werk”. Dit is ook een van die heel eerste goed wat sy met haar uitgewer, Solette Swanepoel by Tafelberg Uitgewers, gedeel het. Hierdie enkele woord – soekenjin, het vir Slippers die nodige energie, lading en “sizzle” gehad, met soveel moontlikhede wat ook genoeg “resoneer met waar ons nou is”. Die bundel dien as ’n Internet van Dinge, of soos die term meer bekend in Engels is “The Internet of Things”. Hierdie term bewoord die huidige verskynsel waarby alle objekte soos slimfone, TV’s en selfs slim-yskaste alles saam ’n netwerk vorm wat alles aanmekaar bind. Die vraag waarmee sy egter gekonfronteer is, is rondom wat aan die gebeur is met mense as dinge jou beter verstaan as ander mense of jou beter verstaan as wat jy jouself verstaan. Slippers poog dus om hierdie vraag te ondersoek deur middel van ’n gesoek na die Self “nie net eksterne [gesoekery], buite jou nie, maar daar is ’n hele heelal binne jou om te verken en te soek”, maar daarmee saam ook die verkenning van ander se wese op ’n dieper wyse deur die soeke na hulle binnewêrelde. Hierdie interne soektog en begeerte om te verstaan kom deurlopend voor soos byvoorbeeld in die gedig “selfportret as poging tot stilte”:

    “ek is 39 en ek probeer
    vir tien minute stilsit met my
    self wat nie kan ophou
    nie wil ophou
    soek nie.”

Intertekstualiteit is verweef in die blaaie van die bundel deur die gebruik van deurlopende verwysings en aanhalings wat gebruik word as “navigation” vir die leser, sowel as ’n manier om op te teken waar sy self gesoek en gaan kyk het na eksterne bronne. “Boeke is die oorspronklike internet” en het ook ’n geneigdheid om mense aan mekaar te bind en daarom verwys sy in die bundel na voorgangers in die kunste, onder andere skrywers, populêre kultuur en musiek. “Tori Amos se album Under The Pink is ’n belangrike interteks,” noem Slippers. Nie net is die bundel se omslag pienk nie, maar ’n aantal gedigte is ook op pienk papier gedruk. By ’n voorlesingsgeleentheid verduidelik Slippers dat sy die kleur pienk met begeerte assosieer. Sy noem ook in die onderhoud dat hierdie spesifieke album van Amos haar beïnvloed het om te sit en te kyk na die “eie binnekant”. Die gebruik van die kleur pienk en die verwysing na die Amos album beklemtoon in ’n mate beide die soeke en die begeerte na die verstaan van die Self as motiewe in die bundel.

’n Sterk fokus en vertrekpunt van hierdie bundel is liefde, meer spesifiek, ’n opgetekende register van liefde. Slippers verduidelik dat selfondersoek en liefde hand-aan-hand loop en dat hierdie proses haar toegelaat het om meer kwesbaar te wees in haar skryfwerk. Wat wel uitstaan is dat die konvensionele idee van liefde nie alleen uitgelig word nie maar ook verskillende vorme van liefde, soos die liefde vir mense rondom jou. “Pienk Inka-lelies: Memento Mori Mama”, is ’n voorbeeld van ’n gedig waarin sy die liefde tussen ’n kind en ’n ouer bewoord. Sy noem dat die toeganklikheid van die internet mens dwing om keuses te begin maak veral met hoe en met wie jy jou tyd wil spandeer. Vir haar beteken dit om doelbewus te besluit om meer tyd te spandeer saam met die wat sy lief het te midde van die proses om vrede te maak met oudwording “mens [moet] keuses maak om te vereenvoudig en net van jou tabs toemaak”.

Die goue draad wat die bundel tot ’n eenheid bring is die teenwoordigheid van die internet in die era waarin die mens tans is. Daar is selfs ’n reeks gedigte wat in die vorm van “ready-mades” verskyn in die bundel, wat deur soekenjins geskryf is. Hierdie gedigte is skermgrepe wat Slippers geneem het by die “search options” van ’n bepaalde soekenjin. ’n Voorbeeld hiervan is die gedig “ARS POETICA”:

    watter woordsoort is is
    watter kleure maak bruin
    watter kant sit jou hart

Die internet word betrek in die skryfproses en resoneer baie sterk met die hede en realiteit van vandag se lewe.

Bibi Slippers is ’n digter, ietwat aweregs soos ander haar al beskryf het, maar in wese ’n digter wat dit regkry om haar werk toeganklik en die moeite werd te maak vir haar lesers om dit te geniet. Sy erken dat haar benadering tot skryf anders is, omdat sy na populêre skeppers vir inspirasie kyk om haar lesers lus te maak om haar werk te lees maar ter selfde tyd ook te oortuig dat dit die moeite werd is om tyd en geld aan haar werk te bestee. Die bundel het in sy maand lange bestaan op die rakke al reeds aandag getrek en het by die 2023 Woordfees Woordtrofees die boekpryswenner behaal in die kategorie “Topverkoper: Poësie en Algeheel”.

Vir Bibi Slippers voel sy dat sy haarself reeds bewys het toe sy die dag begin het om hierdie bundel te skryf en in die proses het sy haarself toegelaat om nuuskierig te wees oor nuwe dinge, rond te speel en haar self te wees sonder eksterne druk of om haarself aan iemand anders te bewys nie. Die produk hiervan is Soekenjin ’n omvattende teks wat getuig van speelsheid, kwesbaarheid en jouself wees.


Dylan Lee is tans ’n derdejaar student aan die Universiteit Stellenbosch en is besig met sy finale jaar studies van sy BA Geesteswetenskappe graad, met Afrikaans en Nederlands, en Geskiedenis as hoofvakke. Hy is passievol oor taal en letterkunde en sal in 2024 sy nagraadse studies voortsit in Afrikaans en Nederlands.

Meer nieuws

2 mei 2024, Actueel
De poëtica van verwantschap
De sectie Nederlands van het Departement Moderne Talen van de Universiteit van Luik organiseert een lezing en een voorstelling met als titel “De poëtica van verwantschap: een postkoloniale verkenning van transnationale banden met Nederland”. De voorstelling vindt plaats op 16 mei, van 19u30 tot 21u30, in TURLg – Salle du Théâtre 1 (1B Quai Roosevelt, […]
9 april 2024, Actueel
In Memoriam Bart de Graaff
Onverwacht is in Pretoria de historicus dr. B.J.H. (Bart) de Graaff (64) overleden. Prof. dr. G.J. Schutte schreef een In Memoriam, ter nagedachtenis.
4 april 2024, Actueel
Augure, het speelfilmdebuut van Baloji
Imagine Filmdistributie brengt Augure (Omen) op 18 april uit in de bioscopen. Het speelfilmdebuut van de Belgisch-Congolese filmmaker, muzikant en kunstenaar Baloji werd in Cannes bekroond met de New Voice Prize. In een magisch-realistisch Congo kruisen de paden van vier personages, die door hun familie en gemeenschap als heksen of tovenaars worden beschouwd. Alleen door wederzijdse hulp […]

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK Amsterdam
+31(0)20-6249318

Openingstijden

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons